Die Gautengse provinsiale rede van premier Panyaza Lesufi dui in wese aan dat die ANC in die provinsie in groot moeilikheid is.
Dit word duidelik indien ‘n mens in ag neem dat die premier vir die eerste keer ‘n analise van die probleme in Gauteng gedoen het wat grootliks korrek is, in stede daarvan om wilde populistiese uitsprake te maak. Dit wys op die realiteit van krimpende steun wat uiteindelik die ANC-leierskap in Gauteng getref het.
Peilings dui boonop daarop dat die ANC se steun steeds krimp. Daarby is die woede vanuit gemeenskappe wat gewoonlik die ANC steun, tasbaar. Die ANC ervaar dit persoonlik tydens elke oorsigbesoek van die Gautengse wetgewerkomitees by hierdie gemeenskappe.
Die situasie skep bepaalde geleenthede, aangesien daar ‘n meer gewillige oor is om redelike en realistiese standpunte oor ekonomiese groei in ag te neem.
Die feit is dat die ANC die Gautengse ekonomie oor jare wanbestuur het. Dit laat die provinsie met bykans geen ekonomiese groei nie, groot werkloosheid en stygende armoede.
Dié probleme kan nie effektief aangepak word sonder volhoubare beleggings vanuit die buiteland nie.
Daar is egter ‘n wesenlike probleem om dié soort beleggings te trek weens die ANC se gefaalde beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat net ‘n paar indiwidue verryk, regstellende aksie (RA), onteiening teen nul waarde en ander vernietigende regeringsinmenging in die ekonomie.
Die VF Plus het derhalwe in sy antwoord op die provinsiale rede hierdie probleem uitgelig aan die premier en hom versoek dat hy met die nasionale regering skakel om ‘n proses van beleidshervorming van stapel te stuur. Die VF Plus het die premier ook gewaarsku dat sonder hierdie hervormings die ekonomiese probleme in Gauteng net verder sal verdiep.
Ook dat die geskiedenis die pad aandui vir ekonomiese groei deur te kyk watter state en streke het suksesvolle ekonomiese groei bewerkstellig. Die provinsie sal die voorbeeld van lande en streke soos Suid-Korea, Hongkong, Singapoer, Vietnam, Taiwan en Mauritius moet volg.
Die Gauteng-regering sal ook moet begin luister na die behoeftes van die oorsese beleggers. Dit sal dan ook spoedig duidelik word dat talle van die ondernemings goeie idees het om opheffingswerk te doen wat baie beter sal werk as die bestaande SEB-programme wat net dieselfde paar indiwidue oor en oor bemagtig.
Die VF Plus neem verder kennis van Lesufi se droefgeestige gekla op die party se voorstel dat ʼn aantal skole Afrikaans moet bly ongeag die Bela-wetgewing.
Lesufi is duidelik onder die indruk dat Afrikaners meer regte het as wat hul verdien, maar die werklikheid is dat hulle in effek tweedeklas burgers is in hul eie land.
Die VF Plus sal bly stry vir ‘n beter ekonomiese bedeling tot voordeel van almal en gelyke behandeling van Afrikaans.


