Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni se begrotingstekort van R2 miljard moet dringend aangespreek word

Die VF Plus is bekommerd oor die Ekurhuleni-metro se begrotingstekort van R2 miljard vir die eerste kwartaal van die 2025-boekjaar.

Dié tekort is grootliks te wyte aan die swak invordering van kraggeld en amptenare se wydverspreide manipulering van rekeninge. Dit is die direkte gevolg van swak bestuur, onvoldoende interne beheer en ʼn gebrek aan behoorlike toesig.

Luidens ʼn verslag wat voor die metroraad gedien het, is 1 660 munisipale rekeninge doelbewus gemanipuleer wat tot ʼn verlies van R273 miljoen gelei het.

Van die onwettige aktiwiteite sluit in ongemagtigde wysigings aan rekeningbalanse, die uitwissing van uitstaande skuldrekords en die verwydering van betalingsverpligtinge uit die metro se rekeningstelsel.

Hierdie praktyke ontneem die metro van broodnodige fondse en plaas bykomende druk op getroue belastingbetalers.

Die VF Plus neem kennis van die stappe wat die metro geneem het, insluitend die skorsing van twee amptenare in die inligtingstegnologiedepartement en die uitreiking van lasbriewe vir die inhegtenisneming van ander oortreders.

Die VF Plus eis ook die volgende onmiddellike optrede:

• ’n Onafhanklike, eksterne forensiese ondersoek na alle munisipale rekeningstelsels en inkomste-invorderingsprosesse om die omvang van manipulasie bloot te lê en alle oortreders te identifiseer.
• Die onmiddellike skorsing van amptenare en diensverskaffers wat geïdentifiseer word as betrokke by die skandaal.
• Stappe om die gesteelde fondse te verhaal en gemanipuleerde rekeninge reg te stel.
• Streng toegangsbeheer moet geïmplementeer word om toekomstige manipulasie van munisipale databasisse te voorkom.

Die burgemeester, Nkosindiphile Xhakaza, en stadsbestuurder, dr. Imogen Mashazi, moet ook gereelde openbare verslae verskaf oor die vordering van ondersoeke en herstelpogings om openbare vertroue te herstel.

Die VF Plus sal voortgaan om die metro se leierskap aanspreeklik te hou en sal nie rus totdat elke sent wat gesteel is, teruggevorder is nie.
Die tyd vir verskonings is verby – beslissende optrede is nou nodig.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.