Mnr. Mokgotsi Lazarus, die premier van Noordwes, het vandag die geleentheid verspeel om werklik leiding te gee om die vele uitdagings van die provinsie aan te pak.
In ‘n oninspirerende toespraak deurspek met uitgediende ANC-propaganda, het hy grootliks bloot verslag gedoen oor die provinsie se deelname aan nasionale projekte.
Geen daadwerklike stappe om ekonomiese groei en ontwikkeling in Noordwes te stimuleer, is aangekondig nie.
Dit is verstommend gesien in die lig daarvan dat die jongste statistieke ‘n werkloosheidsyfer van 52% vir Noordwes en ‘n 0,1% ekonomiese groeisyfer vir die provinsie aantoon.
Dit is teleurstellend dat Lazarus die eerste geleentheid as sittende premier laat verbygaan het om hoop vir die inwoners van Noordwes te skep.
Dit is noodsaaklik dat hy en die provinsiale regering dringend tot die besef kom dat dienslewering in Noordwes slegs herstel kan word in ‘n gesonde ekonomiese omgewing waar groei en werkskepping gestimuleer word.


