Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus se aansoek om interdik teen e-tol op 2 Desember aangehoor

Die Vryheidsfront Plus se hofaansoek om ‘n interdik te verkry teen die aanskakeling van die e-tolstelsel gaan op 2 Desember aangehoor word, ‘n dag voor die stelsel aanstaande maand in werking moet tree, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Van groot belang is ook die feit dat die staat kritieke tegniese foute begaan het met die aankondiging van die implementeringsdatum van e-tol.

Ingevolge die Sanralwet moes veertien dae verloop vanaf die aankondiging tot die inwerkingstelling van die E-Tolwet wat in effek beteken dit kan eers op 4 Desember in werking tree.

Die aankondiging hieroor kon ook net deur die minister gedoen word, terwyl dit in hierdie geval deur ‘n waarnemende direkteur-generaal gedoen is.

Hierbenewens het die kantoor van president Jacob Zuma vandag vir die eerste keer eers ontvangs erken op een van drie dringende briewe wat adv. Alberts die afgelope maande oor die grondwetlikheid van die E-Tolwet aan sy kantoor gerig het.

In sy eerste brief (gedateer 13 Junie 2013) wys adv. Alberts met ‘n regsmening daarop dat die wet verkeerdelik geklassifiseer is. Die regsmening geniet wye erkenning in regskringe en is later net so deur ‘n ander politieke party gebruik wat ook ‘n aansoek teen e-tol wil bring.

In twee opvolgbriewe (10 September en 3 Oktober 2013) het adv. Alberts aangedring op ‘n antwoord op sy vrae en op ‘n afskrif van die president se regsmening oor die saak nadat verneem is dat die president se regsadviseurs met adv. Alberts saamstem.

“Die feit dat daar nie op my vrae geantwoord is nie en dat die president geweier het om sy regsmening bekend te maak, maak dit duidelik dat my versoeke doelbewus verswyg is tot kort voor die aanskakeling aangesien dit die E-Tolwet in sy spore sou stuit.

“Die VF Plus, sy vennote en sy regspan is vas daarvan oortuig dat die interdik toegestaan sal word en dat ons ‘n belangrike oorwinning sal behaal vir alle padgebruikers wat meen dat e-tol ‘n onregverdige en onnodige vorm van belasting is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.