Die VF Plus sal die nuwe waarnemende munisipale bestuurder van die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit (Mokopane/Potgietersrus), Lionel Mashishi, fyn dophou.
Mashishi is tydens ‘n virtuele raadsvergadering as waarnemende munisipale bestuurder in die plek van Beverly Gunqisa aangestel.
Gunqisa se versoek om met spesiale verlof te gaan tot en met die inwerkingtreding van haar bedanking op 28 Februarie, is deur die raad aanvaar. Die VF Plus het egter haar versoek vir drie maande se salaris teengestaan.
Mashishi was voor sy aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder die waarnemende- en ook adjunkbestuurder van Mogalakwena se beplannings- en ontwikkelingsdienste.
Hy het voorheen ook vir die nou wanfunksionele Bela-Bela-plaaslike munisipaliteit (Bela-Bela/Warmbad, Pienaarsrivier) gewerk.
Mogalakwena gaan swaar gebuk onder korrupsie, wanbesteding, bedrog en swak dienslewering weens die aanstelling van onbevoegde mense in sleutelposte. Die verval van die dorp en omgewing is duidelik te sien en die gemeenskap van Mokopane/Potgietersrus verdien beter.
Herontplooiing van ANC-kaders van een munisipaliteit na ‘n ander is een van die groot redes vir die verval van munisipaliteite en die VF Plus hoop dit is nie die geval met die aanstelling van Mashishi nie.
Die party sal aanhou veg vir die inwoners van Mokopane/Potgietersrus se reg tot die dienslewering wat hulle verdien en ten duurste voor betaal.
Navrae: 078 214 6687