Die VF Plus neem kennis van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se huidige padherstelprojek van R3 miljoen, maar sou wou sien dat dié herstelwerk vroeër plaasgevind het.
Herstelwerk aan paaie moet deurlopend plaasvind. Om te wag tot die paaie uitmekaar val en dan die nodige herstelwerk aan te pak, is nie koste-effektief nie en is ‘n teken van swak beplanning.
Die beskikbare fondse kan ook slegs ‘n gedeelte van die padherstelwerk-projek dek terwyl die res van Emfuleni se inwoners steeds koes-koes om slaggate moet ry.
Emfuleni is bekend en berug vir sy swak dienslewering en die VF Plus beskou hierdie as ‘n poging van die ANC-beheerde munisipaliteit om inwoners te paai in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar.
Die feit dat die Emfuleni-munisipaliteit ‘n gebied van 966km² bedien, onderstreep die VF Plus se siening dat die bestaande stelsel van megastede en plaaslike munisipaliteite wat uit verskeie dorpe bestaan, verander moet word om plaaslike regering terug te bring na plaaslike gemeenskappe.
Belasting wat uit hierdie gemeenskappe verhaal word, moet teruggeploeg word in die betrokke gemeenskap en nie bloot verlore gaan in ‘n bodemlose put van korrupsie en wanbestuur nie.
Navrae: 076 616 2124