Die Tshwane-metroraad het vandag sy aansuiweringsbegroting onder moeilike finansiële omstandighede goedgekeur na die nalatenskap van ANC-administrateurs wat die metro in ‘n benarde situasie agtergelaat het.
Die aanvullende begroting word gedoen in terme van Artikel 28 van die Munisipale Finansiële Bestuurswet en bied die geleentheid om fondse tussen departemente rond te skuif op grond van die jongste finansiële inligting en behoefte-bepalings.
Hierdie hertoekenning van fondse kan slegs gedoen word indien daar besparing was en/of meer inkomste gerealiseer het. Tans is daar nie 'n geleentheid vir nuwe projekte in die aanvullende begroting nie, maar nuwe projekte kan deel uitmaak van die nuwe begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP).
Die metro se finansies is ‘n ernstige knou toegedien en alhoewel die Covid-19-pandemie ‘n impak gehad het, was die ANC-aangestelde administrateurs se tekort aan leierskap en vermoë om die metro se finansies effektief te bestuur, ‘n groot bydraende faktor.
Die volgende punte is van belang rondom die aanvullende begroting:
– Bedryfsinkomste (uitgesluit kapitale oordragte) word afwaarts met R40 miljoen aangepas.
– Forensiese ouditdienste se begroting word verhoog met R20 miljoen en word verwelkom.
– Die salarisrekening word afwaarts aangepas.
– Die verversingsbegroting word met R3,5 miljoen verminder.
Hoewel daar in die afgelope maande vordering gemaak is, is daar steeds kommer rondom die metro se finansies nadat die ANC-administrateurs vir agt maande aan die stuur van sake was.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die debiteureboek wat steeds teen ‘n skrikwekkende koers aanhou groei.
Die VF Plus het ook ‘n beroep gedoen dat, indien daar staatsdepartemente is wat nie vir dienste betaal nie, hulle aan dieselfde streng krediet-beheer blootgestel moet word as inwoners van die metro.
Navrae: 072 815 4053