ʼn Opregte gebaar wat hopelik die saad help saai vir die behoud en bevordering van alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika.
Dit is wat die VF Plus vandag probeer bereik het met sy uitnodiging aan die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (KGT-kommissie) om die Afrikaanse Taalmuseum en -monument te besoek.
Die KGT-kommissie is ʼn hoofstuk 9-instelling van die Suid-Afrikaanse Grondwet.
Die besoek het plaasgevind nadat die VF Plus die kommissie verlede maand tydens ʼn vergadering van die parlementêre komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) genooi het om eerstehands uit te vind wat die monument simboliseer.
Die doel was om die kommissie in staat te stel om die Afrikaanse taal, sy inheemse ontwikkelingsgeskiedenis en sy belangrike rol in die Suid-Afrikaanse samelewing met groter begrip te beoordeel.
Die VF Plus se begeerte is dat dit die vertrekpunt vir die kommissie moet wees om eerstehands vas te stel hoe diep geanker ʼn taal in sy sprekers se hart, kultuur en geskiedenis is.
Dit sluit direk aan by die kommissie se mandaat om respek en die beskerming van die regte van kulturele, godsdienstige en linguistiese gemeenskappe te bevorder.
Die ideaal hiermee is om “vrede, vriendskap, menslikheid, verdraagsaamheid en nasionale eenheid” onder en binne kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe te ontwikkel.
Dit moet geskied op ʼn grondslag van gelykheid, nie-diskriminasie en vrye assosiasie. Die kommissie is ook verantwoordelik vir die bevordering van begrip vir historiese erfenisse.
Die KGT-kommissie het duidelik ʼn uiters belangrike rol om te vervul in die Suid-Afrikaanse samelewing wat taal en kultuur aanbetref. Die waarheid is egter dat hy nog nie tot sy reg kon kom in dié verband nie.
Dit word geïllustreer met die gebeure by die Universiteit van Stellenbosch (US) waar Afrikaanssprekende studente verbied is om hul moedertaal te praat, selfs in private gesprekke.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het ná formele klagte hierby ingegryp en het onder meer regstellende optrede van die US gelas.
Dit terwyl die Grondwet juis liggame soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) en die KGT-kommissie daargestel het om te waak teen diskriminering op grond van taal en kultuur.
Die VF Plus hoop van harte dat vandag se gebaar die KGT-kommissie met nuwe ywer sal laat kyk na die opregte behoefte van al die land se taalgemeenskappe om hul eie taal en kultuur te koester.
Dr. Pieter Mulder, vorige leier van die VF Plus, het as gasspreker opgetree en het die lede van die kommissie ʼn volledige agtergrond gegee oor die simboliek van die taalmonument en die Afrikaanse taal se noue verbintenis met ander inheemse tale.
Me. Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor sport, kuns en kultuur, was ook teenwoordig.