Die VF Plus het ‘n aansoek ingevolge die Paia-Wet tot die SAUK gerig om sekere inligting beskikbaar te stel sodat bepaal kan word hoeveel skade die uitsaaier se voormalige waarnemende operasionele hoof, Hlaudi Motsoeneng, die SAUK berokken het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.
Adv. Alberts sê die volgende inligting is aangevra:
* Jongste finansiële jaarverslag van SAUK wat steeds teruggehou word.
* Dokumentêre bewyse wat die besluit staaf om 90% plaaslike inhoud op TV en oor radio uit te saai.
* Dokumentasie wat alle internasionale program-aankope met kostes aandui. Van die programme sluit sepies in soos Days of our Lifes en The Bold and the Beautiful.
Volgens adv. Alberts is die Paia-aansoek se doel onder meer om vas te stel hoeveel internasionaal aangekoopte programme – waarvoor in Amerikaanse dollar betaal word – nie meer uitgesaai gaan word nie weens die 90% plaaslike inhoud-kwota. Dit kan beteken dat miljoen dollar se inventaris moontlik afgeskryf sal moet word.
“Die VF Plus gaan hierdie inligting aan die Maatskappyekommissie verskaf wat aangedui het hy is bereid om Motsoeneng se besluite as senior besluitnemer in die SABC te ondersoek vir moontlike verbrekings van die Maatskappywet indien die nodige bewyse voorgelê word.
“Indien dit blyk dat Motsoeneng roekeloos opgetree het, kan hy ingevolge dié wet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die skade deur die SABC gely.
“Dit het tyd geword dat roekelose besluitnemers in staatsbeheerde maatskappye ingevolge die Maatskappywet se nuwe en sterker beskermingsmaatreëls aanspreeklik gehou word weens hul vermorsing van belastinggeld,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 319 5403 / 083 419 5403