ʼn Raadslid van die VF Plus in die Ekurhuleni-metroraad, Riaan van Zyl, het Maandagmiddag nie gehuiwer om yskoue stormwater te trotseer om ʼn vrou wat onder die water in ʼn oorstoomde duikweg in Brakpan verdwyn het, te red nie.
ʼn Motoris het probeer om deur die duikweg te ry, maar die motor het onder die water verdwyn en tussen twee pilare van die brug vasgesit.
ʼn Vrou wat gesien het wat gebeur het, het uit haar motor gespring om die motoris te hulp te snel. Sy het egter self in die moeilikheid beland.
Van Zyl wat nie ver daarvandaan skuiling in sy motor onder ʼn boom probeer vind het nie, is per radio van die insident verwittig en het hom na die toneel gehaas.
Van Zyl kon die vrou na veiligheid bring.
Die brandweer het die manlike motoris uit sy motor gered, maar hy is ongelukkig op die toneel oorlede.
Die VF Plus het die metro versoek om die nodige voorsorgmaatreëls in plek te stel om soortgelyke voorvalle te verhoed. Dié spesifieke duikweg oorspoel gereeld wanneer dit baie reën.
Die VF Plus spreek sy medelye uit met die oorledene se familie.