Die VF Plus het vandag opnuut druk op die regering geplaas oor die implementering van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Talewet) nadat adj. pres. Cyril Ramaphosa die belangrikheid daarvan bevestig het dat die staat elke landsburger in die taal van sy keuse moet kan bedien.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het hierop gesê dat die ervaring van Suid-Afrikaners in die praktyk presies die teenoorgestelde hiervan is, en dat die VF Plus nie daarvan oortuig is, dat die regering erns het met die implementering van die Talewet nie.
Hy het gesê die bewys daarvan is dat die regering reeds die eerste spertyd vir implementering van die wet, wat reeds in 2012 aanvaar is, gemis het. ‘n Nuwe teikendatum vir Mei vanjaar is toe daar gestel.
Volgens dr. Mulder dui ‘alles daarop’ dat die sperdatum weer gemis gaan word aangesien baie departemente steeds nie die voorskrifte van die wet geïmplementeer het nie.
Hy het aan adj. pres. Ramaphosa gevra watter stappe hy gaan doen om seker te maak dit word geïmplementeer waarop Ramaphosa geantwoord het dat die staat als in sy vermoë sal doen om wel die sperdatum te haal.
Dr. Mulder sê die VF Plus verwelkom die ondermening, maar is skepties oor die erns van die regering om sy woord gestand te doen. Indien dit nie gebeur nie, sal ‘n hofaansoek moontlik oorweeg moet word om die regering te dwing om die wet uit te voer, sê dr. Mulder.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670