Die VF Plus se petisie vir die verwydering van ’n onwettige plakkerskamp in die Tshwane-metro se wyk 57 (Lyttelton, Die Hoewes) is op Donderdag, 19 Februarie 2026, tydens ’n vergadering van die petisiekomitee formeel bespreek.
Die sogenaamde Sportpark-plakkerskamp langs Fountainsrylaan in Lyttelton Manor is aanvanklik in 2019 opgerig en in 2023 gedeeltelik afgebreek, voordat die Menseregtekommissie (MRK) die proses stopgesit het.
Sedert die ontstaan van die kamp het die VF Plus in wyk 57 volgehoue druk toegepas vir die verwydering daarvan, veral weens die hoë voorkoms van misdaad en die vandalisering van infrastruktuur wat met die nedersetting gepaard gaan.
Tydens ’n onlangse besoek is weer gevalle van gesteelde huisnommers, watermeters en pompe, asook dwelms gevind.
Die VF Plus is ook bewus van skade aan infrastruktuur van die nabygeleë Tshwane-metropolisiekantoor wat die onwettige bewoners aangerig het.
Die party hou vol dat dit onregverdig is dat betalende inwoners die prys moet betaal vir die metro se onvermoë om die probleem die hoof te bied. Terwyl inwoners gereeld wateronderbrekings ervaar, steel kampbewoners water uit brandkrane vir eie gebruik en selfs vir herverkoop.
Die VF Plus verwelkom die petisiekomitee se vergadering en het bevestiging ontvang dat die petisie aan die stadsbestuur oorhandig is.
Na verwagting sal die stadsbestuurder volgende week terugvoer gee oor die petisie en watter planne beraam sal word om die uitdaging aan te spreek.
Hoewel die proses vir die verwydering van die onwettige plakkerskamp reeds jare duur, sal die VF Plus nie die geveg opgee nie.
Die party bedank elke inwoner wat die petisie onderteken het en wil beklemtoon dat die doel bly om die plakkers permanent te verwyder.


