Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus oorhandig petisie oor gebrekkige dienslewering in Stilfontein aan Matlosana-burgemeester

Die VF Plus het gisteraand ‘n petisie oor die verval van infrastruktuur en talle ander diensleweringskwessies in Stilfontein aan die burgemeester van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, mnr. Fikile Mahlope, oorhandig.

Die VF Plus se provinsiale leier, Michal Groenewald, self ‘n inwoner van Stilfontein, het die petisie aan die burgemeester oorhandig.

Die oorhandiging van die petisie het deel gevorm van die wetlik voorgeskrewe openbare deelnameproses oor die opstel van ‘n begroting vir die komende finansiële jaar.

Dit is onderteken deur 2127 huishoudings in Stilfontein. Dít onderskei hierdie petisie van die gewone klagskrifte en data-insamelingsgeskrifte wat partye en belangegroepe van tyd tot tyd aan die plaaslike owerhede oorhandig.

Die burgemeester het hierdie aspek ook tydens die oorhandiging beklemtoon en onderneem dat die inhoud deeglik in ag geneem sal word in die prioritisering van begrotingsitems in die nuwe konsepbegroting.

Die VF Plus eis in die petisie dat die herstel van straat- en padinfrastruktuur en die verval van riool- en stormwaterinfrastruktuur dringend gedoen moet word. Sommige strate het in só ‘n mate verval dat dit heeltemal oorgebou moet word. Die oorvloei van riool in die strate kom ook gereeld voor.

Die verstopping van die stormwaterstelsels het selfs daartoe gelei dat die aangrensende N12-hoofweg oorspoel en swaar verkeer deur die dorp herlei moes word.

Verdere eise is dat daar dringend aandag gegee moet word aan die skoonmaak van toegegroeide oop ruimtes wat ‘n veiligheidsrisiko vir inwoners inhou, en dat straatligte dringend vervang moet word om inwoners se veiligheid snags te verbeter.

Die VF Plus sal voortgaan om alle wetlike middele toe te pas, en só te stry vir beter dienslewering en ‘n veilige leefomgewing vir die inwoners van Stilfontein en die breër Matlosana-gemeenskap.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.