Die aangepaste begroting wat die minister van finansies, Enoch Godongwana, vandag voorgelê het, is ‘n oorwinning vir veelparty-demokrasie in Suid-Afrika.
Dit is ‘n sprekende voorbeeld oor hoe die regering van nasionale eenheid (RNE) wel ‘n groot invloed op regeringsbesluite kan uitoefen in die beste belang van al die inwoners van die land.
Die realiteit van Suid-Afrika se fiskale krisis gaan gepaard met ‘n enorme begrotingstekort en onvolhoubare staatskuld. Voldoende ekonomiese groei is al wat hierdie krisis, werkloosheid en armoede voldoende gaan aanspreek. Om dit te bewerkstellig moet die fondse van hierdie begroting effektief bestee word, terwyl alle vorme van vermorsing gestop word.
Die VF Plus is gekant teen enige vorm van belastingverhogings en veral BTW is ’n regressiewe vorm van belasting wat die grootste negatiewe impak op armes sou hê.
Lae-inkomste huishoudings sou ‘n groter deel van hul besteebare inkomste aan verbruiksgoedere moes bestee. Dit is mense wat reeds sukkel om ‘n brood te kan bekostig en net ‘n hartelose regering sou volhard met só ‘n stap in die huidige swak ekonomiese klimaat.
Die VF Plus is bly dat hy van meet af aan sy stem uitgebring het teen ‘n BTW-verhoging en vir die rol wat hy gehelp speel het om dit om te keer. Enige verhoging sou die ekonomie verder lamlê en veral ook druk plaas op kleiner sake-ondernemings.
Suid-Afrika se fiskale situasie is só benard dat korttermyn-opsies om die staatskas aan te vul, veel meer nadele as voordele sal inhou.
Die party staan nog altyd alternatiewe opsies soos ‘n skerp besnoeiing in staatsuitgawes voor met die bestryding van korrupsie daarmee saam.
Die VF Plus is bly dat sy voorstelle oor konstruktiewe oplossings wat ekonomiese groei kan stimuleer en koste-effektiewe staatsbesteding sal aanhelp, wel vervat is in vandag se begroting.
Hiervan is die besnoeiing aan die fondse aan die weermag vir die mislukte DRK-sending ‘n goeie voorbeeld.
Dit was vir die VF Plus belangrik dat die BTW-verhoging nie met ‘n ander vorm van belastingverhoging of -heffing vervang moes word nie. Die fiskale raamwerk moet ‘n gunstige omgewing skep wat groei stimuleer.
Dit is daarom jammer dat ‘n bykomende belastinglas van 16c op petrol en 15c op diesel wel deur ‘n vergrote heffing op brandstof oorgeskuif is op motoriste.
Dit is nie ideaal nie en kom ten koste van ekonomiese groei. Ook hier kon daar eerder verder gesny word aan staatsuitgawes. ‘n Verhoging wat eers in werking gestel word, is blywend en so die skade wat dit aanrig.
Met die wêreld se oë ferm op Suid-Afrika het die tyd aangebreek om met volhoubare planne uit sy fiskale krisis, veroorsaak deur ‘n groeiende begrotingstekort en onvolhoubare staatskuld, los te wikkel.
Elke staatsakteur moet ‘n rol hierin speel deur koste-effektief te bestee terwyl vermorsing en korrupsie ook vir eens met dade beveg moet word. Die RNE het ‘n groot rol hierin te speel en die VF Plus sal aktief daartoe bydra.


