Die VF Plus het ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die Mogale City-plaaslike munisipaliteit wat versuim om riool wat in ʼn stormwatersloot vloei, te herstel.
Riool vloei sedert November verlede jaar uit ʼn mangat op die hoek van Naudé- en Schoemanstraat in Krugersdorp-Wes tot in ʼn sement-stormwatersloot wat die woonbuurte Quelleriepark en Krugersdorp-Wes van mekaar skei.
Daar is talle woonhuise langs die sloot geleë.
Mogale City se departement van sanitasie het al verskeie pogings sonder sukses aangewend om die probleem op te los.
Die VF Plus besoek die gebied twee keer per week om vas te stel of daar vordering is, maar tot op hede is daar niks. Die departement kon ook nog geen bevredigende antwoord gee oor wanneer en hoe die probleem permanent opgelos gaan word nie.
Intussen oorval inwoners die VF Plus met klagtes oor die slegte reuk wat hulle verhinder om hul vensters en deure oop te maak.
Daar is ook mense wat deur die stormwatersloot moet loop na hul onderskeie woonbuurte wat ʼn gesondheidsrisiko inhou.
Mogale City het ʼn wetlike verpligting om redelike maatreëls in plek te stel om rioolbesoedeling te voorkom en aan inwoners ʼn veilige omgewing te bied om te leef en werk.
Die VF Plus sal intussen voortgaan met oorsigbesoeke aan die gebied en sal aanhou druk plaas op die munisipaliteit om die probleem op te los.


