Die VF Plus is nie gelukkig met die verkiesing van die nuwe waarnemende voorsitter vir die portefeuljekomitee van gesondheid in die parlement, mnr. Tshilidzi Munayi, wat tydens ‘n vergadering van die portefeuljekomitee vanoggend naelskraap tot dié pos verkies is nie.
Munyai van die ANC het met vyf stemme teen die drie van Evelyn Wilson van die DA gewen.
Die VF Plus het voorgestel dat ‘n geheime stemming gehou moet word, maar slegs die lede van die DA het die VF Plus hierin ondersteun. Die meerderheid het beslis op ‘n ope stemming met die opsteek van hande.
Die VF Plus is nie gelukkig met Munayi as waarnemende voorsitter nie aangesien hy die afgelope twee jaar nie veel betrokke was by die werksaamhede van die komitee nie en nie veel oorsigbesoeke saam met die komitee meegemaak het nie.
Hy woon wel sy komiteesittings by, maar speel nie ‘n baie goeie oorsigrol in die komitee nie.
Die VF Plus het Munayi nogtans voorspoed toegewens met sy waarnemende amp, maar het hom daarop gewys dat dié komitee tans ‘n baie belangrike oorsigrol moet speel tydens die Covid-19-pandemie.
Die party het ook die hoop uitgespreek dat Munayi sal toesien dat hierdie rol wel deeglik uitgevoer word.
Die VF Plus sal uit die aard van die saak toesien dat ‘n heeltydse voorsitter vir die komitee so gou as moontlik verkies word en sal intussen druk op Munayi plaas om te verseker dat sake in die portefeuljekomitee reg en volgens die voorgeskrewe reëls hanteer word.
Die ANC moet sy aanwysing nie sien as ‘n geleentheid om sake soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te probeer deurdruk nie. Die VF Plus sal so iets met alles tot sy beskikking beveg.