fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC se nuwe nasionale aftreefonds niks anders as kruipende kommunisme

Die VF Plus beskou die ANC-regering se voorgestelde nuwe nasionale aftreefonds as niks anders nie as ‘n vorm van kruipende kommunisme waar die staat aan die een kant die vryemark wat waarde, werk en rykdom moet skep, vernietig in ruil vir vals beloftes van die staat om vir almal van die wieg tot die graf te sorg.

Die ANC is benoud oor sy tanende steunvlakke weens die vernietigingstog van sy eie swak ekonomiese beleid oor die laaste 27 jaar, sy irrasionale reaksie op die Covid-19-pandemie en sy platvoetige reaksie op die onluste wat dalk weer kan opvlam.

Daarom moet die ANC weer nuwe beloftes aan die kieserspubliek maak wat totaal onrealisties is en die ekonomie finaal kan vernietig. Die VF Plus sal hierdie voorstel van die ANC-regering met alles in sy vermoë teenstaan.

Dit het nou baie duidelik geword dat die ANC-regering nie die wil of vermoë het om die broodnodige strukturele veranderinge aan te bring wat vereis word om die skerp afwaartse ekonomiese trajek om te draai nie, veral soos vereis deur die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Die ANC is ongelukkig so ideologies verknog aan sy oorspronklike Marxistiese ideale dat geen afwyking geduld kan word nie. Die ANC verskerp eerder met elke krisis eerder sy kommunistiese beleid en grawe die gat waarin Suid-Afrika is, net dieper.

Die waarheid is dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nie die voorgestelde nuwe nasionale aftreefonds kan bekostig nie. Dit is iets wat nie eens bekostigbaar sal wees vir die meeste ontwikkelde state nie.

Die kostes daaraan verbonde gaan die middelklas heeltemal vernietig wat Suid-Afrika sal los waar talle ander ontwikkelende state wat dieselfde eksperimente probeer het, hulle tans bevind, naamlik ‘n staat met ‘n baie klein skatryk elite en massas uiters arm mense.

Suid-Afrika is reeds die mees ongelyke samelewing in die wêreld en die gaping sal nou net vergroot met ‘n massa mense wat almal ewe arm en verswak is en nie die staat kan uitdaag vir ‘n beter lewe nie, soos die geval is in Zimbabwe, Kuba, Venezuela en Noord-Korea.

Daarby sal die nuwe aftreefonds ‘n enorme nuwe poel van fondse skep wat na hartelus geplunder gaan word. Daar is geen twyfel nie dat die plundering endemiese afmetings sal afneem gegewe die ANC-regering en sy onbevoegde en gierige staatsdiens en openbare ondernemings se eie rekord in dié verband.

Die VF Plus het geen illusies oor die patroon van die ANC-regering se optrede as kruipende kommunisme nie.

Soos die ANC se beleid faal en die waarde in die markgerigte ekonomie al hoe meer vernietig word, sal hy al hoe meer sy lang vingers inslaan in die oorblywende poele van waarde.

Dit is ook waarom die ANC alle mediese fondse saamdwing in een staatsbeheerde fonds onder die Nasionale Gesondheidsversekering-skema en nou verdere belastings hef vir ‘n nuwe pensioenfonds.

Die volgende stap gaan wees om alle pensioenfondse saam te dwing in een pensioenfonds wat die laaste poel van geld vir die land daar sal stel wat geplunder kan word. Sodra die mediese en pensioenfondse leeg is, sal die Suid-Afrikaanse staat finaal in duie stort bestaande uit ‘n klein ryk groep ANC-kaders en massas armes wat met mening onderdruk sal word.

Die ANC het ‘n toekomsdraaiboek geskryf met skrikwekkende gevolge vir die land en sy mense. Die VF Plus sal dit met alles in sy vermoë beveg.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Van die VF Plus se politieke lessenaar
Dalien Steyn

Meningspeilings en verkiesingsuitslae

Daar is die afgelope ruk byna elke week ʼn nuwe meningspeiling wat voorspel hoe politieke partye in die komende verkiesing gaan vaar.

Die jongste dag-tot-dag-meningspeiling van die Social Research Foundation (SRF) dui daarop dat die ANC nou voorloop in KwaZulu-Natal nadat hy sy groot kanonne ingestuur het om in die provinsie stemme te werf.

LEES MEER
Jongste nuus
Amanda de Lange

Lesufi faal welsynsorganisasies

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi en die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, se krisisbestuur om welsynsorganisasies wat nog nie hul diensooreenkomste ontvang het nie

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.