Die VF Plus neem met leedwese kennis van die afsterwe van mnr. Lucas Mangope en spreek sy medelye uit teenoor die familie en naasbestaandes van mnr. Mangope, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Dr. Groenewald sê mnr. Mangope, destydse leier van die tuisland Bophuthatswana, sal onthou word vir die ywer waarmee hy dienste aan sy gemeenskap wou lewer. ‘n Bewys hiervan is die huidige wetgewer-kompleks van Noordwes wat die destydse regeringskantore en parlement van Bophuthatswana was.
“Hy het infrastruktuur ontwikkel en daar was ‘n stadium waartydens daar ‘n opbloei was in die ekonomie van Bophuthatswana, veral met fabrieke in die omgewing van Soshanguve om Pretoria.
“In my persoonlike kontak met mnr. Mangope waar ons twee jaar saam in die Noordwes-wetgewer was, was hy ‘n waardige leier wat altyd respek afgedwing het en ook respek getoon het teenoor ander mense.
“Hy was ook een van die min leiers wat voor 1994 weerstand gebied het teen die onvoorwaardelike inlywing by Suid-Afrika met die nuwe bedeling ná 1994.
“Hy het geweet die nuwe bedeling sou totale oorgawe aan die ANC tot gevolg hê en nadelig wees vir Suid-Afrika soos nou wel gebeur het,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216