Die VF Plus in die Tshwane-metroraad het oor die naweek ingegryp en privaat ondernemings genader om inwoners by te staan met die kragkrisis wat die metro tans ervaar.
Verskeie gebiede in die metro ervaar sedert verlede Woensdag kragonderbrekings weens munisipale amptenare se voortslepende onwettige staking en die intimidasie van werkers.
Burger Box in Baarstraat, Centurion, het aangebied dat inwoners hul selfone en skootrekenaars by die onderneming kan herlaai.
Die VF Plus het mev. Joyce Maritz na Burger Box vergesel om die batterye van haar suurstofmasjien, waarvan sy ten volle afhanklik is, te herlaai.
Virgin Active in Mall@Reds, Centurion, het inwoners uitgenooi om gratis van sy stortgeriewe gebruik te maak.
Die party bedank al die ondernemings wat hul dienste aan inwoners aanbied in hierdie moeilike tyd.
Die VF Plus is sterk gekant teen die onwettige staking wat inwoners gyselaar hou en daartoe kan lei dat onskuldige mense met hul lewe boet.