Die VF Plus verwelkom die projek oor vyf jaar om die Potsdam-rioolsuiweringsaanleg op te gradeer om sodoende die Milnerton-strandmeer se ekologiese krisis aan te spreek.
Die begrote meer as R5 miljard sal die Potsdam-rioolsuiweringsaanleg se kapasiteit verhoog om afvalwater te behandel.
Hierdie onbehandelde besoedelde water loop tans in die strandmeer en in die Theo Marais-stormkanaal in.
Die Milnerton-strandmeer was eens ‘n baie gewilde plek vir Kapenaars en toeriste om te besoek, maar met die huidige besoedeling word enige wateraktiwiteit op eie risiko onderneem.
Die stank van die Milnerton-strandmeer is ‘n bykomende duidelike teken dat die strandmeer se water erg besoedel is.
Die VF Plus is verlede jaar tydens ʼn oorsigbesoek van die metro se portefeuljekomitee vir water en sanitasie aan die Potsdam-aanleg en die Joe Slovo-informele nedersetting, ingelig dat Potsdam nie die besoedelingsbron vir die Milnerton-strandmeer is nie.
Die Stad Kaapstad het homself egter telkens hieroor weerspreek en het onderneem dat die aanleg se uitvloei-watergehalte as deel van die projek verbeter sal word.
Die skuld is aanvanklik net op die onbehandelde afloopwater van die omliggende informele nedersettings stroomop geplaas.
Die VF Plus stem saam dat die vestiging van informele nedersettings in die invloei van inwoners uit ander dele van die land en buurlande in ʼn groot mate verantwoordelik is vir die besoedeling van Kaapstad se waterbronne.
Die huidige stormwater- en rioolstelsels is nie in staat om die ekstra hoeveelheid riool te hanteer nie.
‘n Oplossing word vereis wat die hervestiging van informele nedersettings moet insluit asook die moontlike hergebruik van die stormwater-afloopstelsel na ‘n bykomende rioolverwerkingsaanleg.
Die Stad Kaapstad moet dit verder oorweeg om dié wat doelbewus Kaapstad se vleie, strandmere en stormwaterstelsels besoedel, strafregtelik aan te kla.
Alhoewel die opvoeding van die publiek kan help om die omgewing te bewaar, moet wetstoepassingsaksies geneem word om die doelbewuste vernietiging van Kaapstad se ekologie te verhoed.
Die VF Plus sal die situasie monitor en insette aan die portefeuljekomitee lewer om te help om die grondwetlike regte van alle Kapenaars te beskerm om in ʼn omgewing te werk en leef wat nie skadelik vir hul welstand is nie.