Die VF Plus in die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza, Witrivier) is heftig gekant teen die boete van slegs R500 vir persone wat ʼn eerste keer met ʼn munisipale kragmeter peuter.
Mbombela skuld Eskom tans ongeveer R1.4 miljard. Eskom se besluit om slegs die minimum-hoeveelheid krag te verskaf aan munisipaliteite wat agterstallige rekeninge het, straf inwoners wat hul rekeninge getrou betaal onregverdig deur nie strenger teenoor kragdiewe op te tree nie.
Hoewel bogenoemde skuld nie alleenlik weens kragdiefstal is nie, speel dit ʼn groot rol.
In ‘n vorderingsverslag aangaande ‘n plaaslike kragmeteroudit, wat in Mei aan die raad voorgelê is, is bevind dat sowat 1 200 boetes uitgereik is aan inwoners wat met kragmeters gepeuter het. Die oudit is nog nie afgehandel nie.
Hierdie bevindinge wek ernstige kommer. Tot op hede het die munisipaliteit niks gedoen om die boetes in die verordeninge te verhoog wat kragdiewe sal afskrik nie.
Dié artikel 8-boetes tref geen onderskeid tussen residensiële en geregistreerde sakeondernemings wat met die kraginfrastruktuur peuter nie.
Sakeondernemings wat met kragmeters peuter om minder vir krag te betaal, moet aan strenger boetes of ʼn langer tronkstraf blootgestel word.
Tans is ‘n tweede oortreding slegs ses maande tronkstraf of R5 000 boete.
Die VF Plus gaan in September ‘n mosie voorlê wat sal eis dat die boete vir eerste residensiële oortreders tot R5 000 verhoog word. ʼn Sakeonderneming se boete vir ʼn eerste oortreding moet tot R10 000 verhoog word.
Die mosie sal ook eis dat residensiële oortreders wat ʼn tweede keer oortree, ‘n boete van R20 000 en sakeondernemings ‘n boete van R30 000 opgelê word.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die Mbombela-munisipaliteit totdat die noodsaaklike stelsels in plek is om kragdiefstal en die peuter aan kragmeters heeltemal uit te skakel.