Onskuldige leerders in Kaapstad is nou die slagoffers van Santaco se onwettige taxi-staking.
Alhoewel die Wes-Kaapse departement van onderwys die versekering gegee het dat skole oop sal bly tydens die taxi-staking, kon derduisende leerders nie by hul skole uitkom nie weens intimidasie.
In ʼn video wat wyd op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe kinders bevrees uit ʼn minibus spring en vlug.
Talle skole het ook hul deure vroeg gesluit en ouers gevra om leerders te kom haal.
Luidens ʼn verklaring van die Wes-Kaapse provinsiale regering kon 287 420 leerders van regoor die provinsie nie skool bywoon sedert die onwettige taxi-staking nie. Meer as 9 000 onderwysers en personeel is ook verhinder om werk toe te gaan.
Daar blyk nie tans ʼn einde aan die onwettige taxi-staking te wees nie en intussen verloor leerders waardevolle onderrigtyd wat hul toekoms, veral matrikulante, negatief kan beïnvloed.
Die VF Plus-jeug in die Wes-Kaap veroordeel die optrede van Santaco en misdadige elemente wat van hierdie staking gebruik maak om te brand en te plunder, ten sterkste.


