(Debatte in Noord-Kaap-wetgewer)
Die Noord-Kaapse wetgewer het gister twee van Suid-Afrika se dwingendste maatskaplike probleme gedebatteer, MIV-Vigs en geweld teen vroue en kinders. Die VF Plus se standpunt hieroor was ondubbelsinnig: Gewone mense kan en moet die vernietigende gevolge hiervan stopsit.
Die mediese wetenskap het groot vordering gemaak met die behandeling van MIV-Vigs. Dit is nou ook bekend dat leefstylkeuses nie die enigste oorsaak daarvan is nie. Nogtans kleef 'n stigma hardnekkig aan mense wat daaraan ly, wat negatief is op openbaarmaking en behandeling van die siekte.
Boonop het die oorweldigende aandag wat Covid-19 trek, gelei tot 'n afname in die aandag wat geskenk word aan MIV-Vigs.
'n Diagnose wat aantoon dat iemand die Menslike Immuniteitsvirus onder lede het (MIV-positief is) is lankal nie meer 'n doodsvonnis nie. Deur behandeling kan ontwikkeling van Vigs (die siekte waaraan mense uiteindelik doodgaan) byna onbepaald uitgestel word. Daarom is dit belangrik dat die stigma aan die siekte afgeskud, en behandeling opgesoek word.
In nog 'n debat is die Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders bespreek. Dit is iets wat nie in die hedendaagse samelewing behoort te bestaan nie, maar tog is dit so algemeen dat 'n hele veldtog daarteen nodig is.
Terwyl drank en dwelms soms vir hierdie euwel verantwoordelik is, is dit soms ook die gevolg van polarisasie in die samelewing.
Die ergste is nie die liggaamlike letsels nie, maar die langtermyn impak op die lewens van mishandelde vroue en kinders. Kinders wat mishandel word, wend hulle dikwels tot bendes vir aanvaarding, wat tot 'n afwaartse spiraal aanleiding gee. Mishandelde vroue ontwikkel dikwels 'n gebrek aan selfvertroue, wat beteken dat hulle potensiaal nooit verwesenlik word nie.
In Suid-Afrika, soos in enige land, is die mense die land se belangrikste bate. Die samelewing kan eenvoudig nie bekostig om mense se bydrae te verloor deur hulle aan 'n behandelbare siekte soos Vigs te laat sterf, of weens mishandeling te laat kwyn nie.