Die VF Plus vind dit teleurstellend dat Die Eiland-oord wat vir jare 'n bekende landmerk net buite Upington was, deur die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit verkoop gaan word weens aanhoudende vandalisme.
Mense van oraloor kon Die Eiland se groen grasperke, kampterrein, chalets en ander ontspanningsgeriewe geniet. Dit het al die jare aan die plaaslike owerheid behoort en is deur billike pryse en goeie onderhoud gekenmerk. Boonop het dit tot die munisipaliteit se inkomste bygedra.
Dit is simptomaties van dienslewering wat agteruitgaan in ‘n munisipaliteit wat oor die bronne beskik om ‘n ekonomiese kragveld in dié streek te word.
Upington is die hoofstad van die westelike Kalahari en het naas Kimberley die grootste bevolking in die Noord-Kaap.
Danksy die gelykmatige landskap vloei die Oranjerivier breed en vorm talle groot eilande in die omgewing. Kenmerkend is die duisende hektaar wingerde, waar tafeldruiwe, rosyne en wyndruiwe verbou word. Pekanneutboorde, lusernlande en ander gewasse vorm saam met die wingerde 'n groen strook deur die rooi Kalahari-landskap. Dit alles gee die omgewing en die dorp self 'n besondere bekoring.
Buite die dorp is die land se enigste aanleg wat sonlig met honderde spieëls op 'n punt konsentreer, waar sout gesmelt word om 'n stoomturbine vir die opwekking van elektrisiteit aan te dryf. Dit beteken dat krag steeds opgewek word, ure na die son reeds gesak het.
Goeie munisipale dienste is egter noodsaaklik om die ideaal te verwesenlik en die verkoop van Die Eiland onderstreep dat die element ontbreek. Dit kan wel verander as meriete weer die belangrikste oorweging vir die aanstelling van munisipale amptenare word.