Tammy Wessels, jeugleier van die VF Plus, het vandag ‘n voorlegging gedoen aan die Verenigde Nasies (VN) se Forum oor Minderheidskwessies in Genève, Switserland, en het die fokus laat val op probleme wat veral die jeug van minderheidsgroepe in Suid-Afrika in die oë staar.
Hier volg Wessels se voorlegging:
Ek wil almal bedank wat hier voorleggings gemaak het. As deel van die jeug van ‘n minderheid in Suid-Afrika, is dit goed om daaraan herinner te word ons is nie die enigstes wat met moeilike kwessies te make het nie.
Suid-Afrika se jeug staan voor groot uitdagings ten opsigte van aspekte soos werkloosheid, ‘n mislukte basiese onderwysstelsel en duur hoër onderwys. Die minderheidsjeug word verder gemarginaliseer op grond van velkleur, etnisiteit en taal wat hul ekonomiese deelname en geleenthede verder beperk.
Daar word teen hulle gediskrimineer op grond van die marginalisering van moedertaalonderrig waar Afrikaanse skole gedwing word om Engels as onderrigmedium in te voer. Op tersiêre vlak word onderrig in Afrikaans ook by universiteite uitgefaseer.
Regstellende aksie herstel geensins die ongeregtighede van die verlede nie, maar lê opnuut die klem op ras ten koste van ander. Hierdie klem op ras en kwota het ‘n negatiewe uitwerking op mense wat daardeur geraak word.
Regstellende Aksie (RA) en ander rasgegronde kwotastelsels word selfs toegepas in die toekenning van studiebeurse in Suid-Afrika. Dit diskrimineer teen minderhede oor die blote aanname dat hulle in die verlede bevoordeel is.
Dit beteken dat ‘n generasie jeugdiges 23 jaar na bewindsverandering direk benadeel word oor ‘n politieke bestel waaraan hulle geen deel gehad het nie.
Indien hierdie diskriminasie sou voortduur, is daar vir die jeug van minderhede nie die vooruitsig van ‘n toekoms in ons mooi en diverse land nie.
Aanstellings word nie gemaak op grond van meriete nie, maar op grond van velkleur. Die jeug uit minderheidsgroepe, veral die Afrikaner-jeug, word gestraf vir iets waaraan hulle nie deelgeneem het nie.
Die regstellende beleid wat in Suid-Afrika afgedwing word op minderhede, is nie bevorderlik vir 'n vrye samelewing waar groepregte gerespekteer word nie.
Kontaknommers: 082 490 6663 / 065 801 7216