Die VF Plus-jeug het onlangs ’n trauma-pop aan die polisiekantoor op Wellington geskenk. Dié poppie is ’n eenvoudige hulpmiddel wat ’n groot verskil kan maak om met mishandelde kinders te kommunikeer.
Wanneer kinders fisies of seksueel mishandel word, sukkel hulle dikwels om die verskriklike ervarings in woorde te plaas. Met die trauma-pop kan hulle die slegste dag van hul lewe uitbeeld en verduidelik aan ’n betroubare persoon wat met hulle gebeur het.
Kolonel Barkhuizen en sy span by die Wellington-polisiekantoor bied ’n plek van veiligheid vir slagoffers.
Die VF Plus glo dat praktiese ondersteuning soos die trauma-pop ’n noodsaaklike rol speel om kinders te help om hul stem terug te kry en om die pad na geregtigheid te begin.
Maar die rede waarom sulke hulpmiddels nodig is, lê in die harde werklikheid van die polisie se eie misdaadstatistiek:
• In die eerste vyf maande van vanjaar is 63 kinders dood in bendegeweld – die meeste in kruisvuur op die Kaapse Vlakte.
• In dieselfde tydperk is 333 kinders gewond en het net-net oorleef.
• Oor die afgelope vyf jaar is 472 kindermoorde in die Wes-Kaap aangeteken, waarvan 157 direk aan bendegeweld gekoppel is.
• Seksuele misdaad tref die jeug besonder hard met 60% van verkragtingslagoffers wat jonger as 25 jaar is
Hierdie syfers verteenwoordig nie net statistiek nie, maar gebroke drome, gebroke gesinne en ’n gebroke samelewing.
Die VF Plus-jeug sal aktief werk dat die polisie, die provinsiale regering en gemeenskappe saamwerk om kinders te beskerm.
Die trauma-pop is ’n klein gebaar, maar dit simboliseer ’n groter boodskap dat ons nie kan toekyk hoe ’n hele generasie in ’n misdaadgolf verdwyn nie.


