Terwyl miljoene Suid-Afrikaners werkloos is en elke sent moet omdraai om te oorleef, dra hulle ruimskoots by om die Palestynse ambassade in Pretoria se deure oop te hou.
Uit ‘n parlementêre vraag van die VF Plus aan die minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Ronald Lamola, blyk dit tewens dat Suid-Afrika die rekening dra vir alle bedryfskostes van die Palestyne.
Oor die afgelope vyf jaar is bykans R10 miljoen betaal vir die ambassade se “bedryfskostes” wat oënskynlik alle uitgawes insluit – van kos, drank en vermaak tot voertuie en brandstof. (Vraag en antwoord hierby aangeheg).
Dit terwyl die ANC, wat oor buitelandse beleid steeds optree asof hy alleen regeer, openlik vyandiggesind is teenoor Israel en sy ambassadeur verlede jaar uit Israel herroep het.
Ewe verontrustend uit die antwoord van min. Lamola is dat sy departement geen idee het of daar enige ondersoeke is na moontlike terrorisme-verbindings met die Palestynse ambassade nie.
Volgens die minister is dit kwessies wat die land se intelligensie-agentskappe sal hanteer. Hierdie antwoord bied geen deursigtigheid nie en laat vrae ontstaan oor die ware redes vir die befondsing van die ambassade.
Bewerings dat Suid-Afrika deur militante organisasies gebruik word vir fondsinsameling en steunwerwing, is lank reeds bekend.
Luidens ‘n 2024-verslag van die Instituut vir die Studie van Globale Anti-Semitisme en Beleid, is daar bestaande ooreenkomste tussen die ANC en Hamas, met ruimskootse finansiële en logistieke ondersteuning deur Suid-Afrikaanse organisasies.
Die situasie kan nie so voortduur nie. Daar kan nie van Suid-Afrikaners, wat worstel met ekonomiese uitdagings, werkloosheid, swak infrastruktuur en stygende lewenskoste, verwag word om miljoene te betaal om die ambassade te onderhou nie.
Daar is te veel binnelandse probleme wat dringend aandag vereis en die geld kan veel eerder daarvoor aangewend word.
Die VF Plus dring daarop aan dat hierdie eensydige beleid van dubbele standaarde hersien word en dat die geldkraan na die ambassade onmiddellik toegedraai word.
Alle rolspelers in die regering moet voortaan saam besluit oor ‘n gebalanseerde buitelandse beleid wat vrede en regverdigheid vir almal bevorder. Dit kan nie net in die hande van die ANC gelaat word nie.


