Die VF Plus verwelkom die twee lewenslange vonnisse wat in die Bloemfonteinse hooggeregshof opgelê is aan die moordenaars van Christo (76) en Christa (73) Morrison, wat op 10 Mei 2024 brutaal tydens ’n rooftog op hul plaas naby Glen vermoor is.
Die beskuldigdes het die egpaar se voertuig en selfone gesteel en is kort daarna vasgetrek tydens ’n intelligensiegedrewe polisie-operasie.
Die regter het die moordenaars as “evil personified” beskryf en beklemtoon dat hulle nie in staat is tot rehabilitasie nie. Die hof het opnuut bevestig dat ’n totale gebrek aan berou en die uiterste wreedheid van sulke misdade swaar strawwe verg.
Hierdie strawwe versterk die publiek se vertroue dat geregtigheid geskied wanneer die regstelsel daadwerklik optree. Dit dien ook as belangrike afskrikmiddel teen verdere geweldsmisdade, veral teenoor kwesbare inwoners.
Die VF Plus bedank alle polisie-eenhede en die nasionale vervolgingsgesag vir hul toegewyde spanwerk wat tot hierdie vonnisse gelei het.


