fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus-jeug nooi ANC-Jeugliga vir geskiedenisles

Die VF Plus-jeug is bereid om die ANC-jeugliga ‘n gratis geskiedenisles te gee. Dit volg nadat die ANC-jeugliga dreig om die standbeeld van oudpresident Paul Kruger van Kerkplein te verwyder.

Awie Erasmus, ‘n dagbestuurlid van die VF Plus-jeug oor kultuursake, sê talle standbeelde is reeds beskadig en verwyder. Een so ‘n bekende standbeeld is dié van Cecil John Rhodes vroeër vanjaar.

“Die ANCJL eis nou op dieselfde grondslag dat pres. Paul Kruger se standbeeld verwyder moet word. Die ANC-jeug verstaan duidelik niks van die konflik en stryd van die verlede nie. President Paul Kruger het sy lewe gewy aan ‘n stryd teen Britse imperialisme en kolonialisme.

Dit het begin deur die Groot Trek waaraan hy deelgeneem het om onder Britse gesag uit te kom en het geëindig met twee oorloë, 1881 en 1899, teen die koloniale moondheid Brittanje. Kruger is in Switserland dood omdat hy gesê het dat hy onder die Britse vlag gebore is, maar nie bereid is om onder die Britse vlag te sterf nie. In hierdie opsig is hy een van die eerste Afrika-vryheidsvegters teen Europese kolonialisme en imperialisme.

Die Kruger-familie se goeie bande met swartmense blyk uit die feit dat die kosbare familiebybel, waarin Kruger self die familiestamboom ingeskryf het, tydens die Anglo-Boereoorlog aan die Magato by Rustenburg gegee is vir beskerming teen die Britte.

Kruger het ook ‘n positiewe rol gespeel in die geskiedenis van die Royal Bafokeng wat vandag as die rykste stam in Afrika beskryf word.

In 1887 het Kruger ‘n ooreenkoms met Lobengula, die Matebelehoof gesluit. In hierdie tyd het die Britte en Rhodes in Lobengula se land, die huidige Zimbabwe, belanggestel. Kruger het Piet Grobler as ‘n spesiale konsul met ‘n boodskap na Lobengula gestuur. Kruger se boodskap aan hom was: “Jy moet nie van jou land aan ander weggee nie, maar dit vir jou kinders hou."

Die VF Plus-Jeug gaan ‘n projek van stapel stuur om juis die oningeligte ANCJL se kennis te verbreed oor wie pres. Paul Kruger werklik was. Die ANCJL besef nie waarvan hulle praat nie, maar ons sal graag deur middel van ‘n geskiedenisles hulle persepsie wil verander”.

 

Awie Erasmus

VF Plus Raadslid. Tshwane metro/VF Plus-Jeug Dagbestuur Gauteng

Tel: 072 815 4053

awieerasmus@gmail.com

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.