Die saak teen die Bulgaar wat e-tol ontduik het deur bedrog te pleeg, was in wese bedrog wat hy erken het, en nie ‘n toets vir die e-tolstelsel as sodanig nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Die Bulgaarse biochemikus, Stoyen Hristov Stoychev, het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan nadat hy met vals nommerplate op sy motor gery het om e-tol te ontduik. Hy is gister ’n boete van R20 000 opgelê en moet sy uitstaande e-tolgelde betaal.
Adv. Alberts sê die publiek moet duidelik verstaan dat die saak ten Stoychev nie oor die geldigheid van e-tol gegaan het nie, maar wesenlik oor bedrog wat gepleeg is om die stelsel te omseil.
Hy sê Outa het reeds onderneem om enige persoon wat suiwer weens die beginsel van e-tol aangekla word, in die hof by te staan en die VF Plus hou ook by sy onderneming om ‘n regsmening hieroor te gee in die geval van ‘n hofsaak.
“Die VF Plus volstaan daarby dat die stelsel ongrondwetlik en daarom onwettig is. Die Tolhek Aksiegroep (TAG) waarvan die VF Plus deel is, is steeds van plan om die wettigheid van e-tol in ‘n hof te laat toets,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403