Die VF Plus in Mogale City sal nie toelaat dat arm en siek mense hardhandig van ‘n perseel verwyder word waarin hulle reeds vir jare woon nie, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid wat deel is van die koalisie-regering in Mogale City.
Rdl. de Lange moes verlede week die owerhede inroep om te kom help nadat ‘n lid van die Krugersdorp Posduif-klub die sekuriteitshek van die klubhuis met ‘n ketting en slot gesluit het.
“Hy het twee weerlose siek vroue en ‘n bejaarde man fisies uit die klubhuis in Munsiestraat gegooi. Toe die vroue vra waarheen hulle dan vir skuiling kan gaan, het die man (wie se naam aan die party bekend is) onwelvoeglike voorstelle aan die vroue gemaak.
“Hy het hulle nie eers kans gegee om hul klere en kos saam met hulle te neem nie. Die groepie het half verkluim by mense wat op die gronde van die ou begraafplaas woon, aangekom,” vertel rdl. de Lange.
“Dié optrede is onmenslik. Die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting deur mense wat onwettig grond beset (Wet 19 van 1998 van die Voorkoming van Onwettige Uitsetting) stipuleer duidelik die prosedure wat in sulke gevalle gevolg moet word.
Die vier mense, Madelein van der Rede, Gurty Myburg, Daniel Myburg en Johannes Myburg woon al meer as ‘n jaar in die Posduif-klubhuis. Hulle was op ‘n stadium deel van 21 mense wat vir meer as vier jaar daar gewoon het. Baie mense het ander heenkome gevind.
“Die VF Plus doen tans alles in hul vermoë om die groepie te hervestig. Ons kan nie so kort voor die winter mense net op die straat gooi en ons rug op hulle draai nie. Indien die Posduif-klub die voorgeskrewe uitsettingsroete gevolg het, kon dié geval op ‘n vreedsame manier opgelos gewees het.
“Die VF Plus het nog altyd vir die minderbevoorregtes, armes en siekes geveg en ons sal nie stop nie. Ons sal nie toelaat dat daar teen sulkes gediskrimineer word nie,” het De Lange gesê.
Kontaknommers: 071 604 9498