Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in gesprek met LUR oor Emfuleni- en Mogale City-probleme

Die VF Plus in Gauteng het vanoggend in Johannesburg met dié provinsie se nuwe LUR vir plaaslike regering, mnr. Uhuru Moila, gepraat oor probleme in Emfuleni en Mogale City.

Die VF Plus het dié gesprek aangevra na maande se swak dienslewering van die Emfuleni-munisipaliteit en die politieke probleme in Mogale City se munisipaliteit. Die inwoners van Emfuleni gaan gebuk onder swak dienslewering wat betref die lewering van water en elektrisiteit vanaf Randwater en Eskom.

Hierdie munisipaliteit betaal nie sy skulde by die twee entiteite nie en Randwater het verlede maand weer gedreig om dienste na Emfuleni op te skort. Emfuleni skuld Randwater tans R311 miljoen terwyl sy skuld by Eskom tans ongeveer R170 miljoen beloop.

Wat Mogale City aanbetref, het die VF Plus die politieke onrus in die munisipaliteit met die LUR bespreek wat besig is om dienslewering erg te kniehalter. Die munisipaliteit gaan ook gebuk onder erge finansiële spanning en hy is tans besig om ontslae te raak van sy eiendomme, soos die Bob van Reenen-stadion en die Krugersdorp-wildpark, om sy skulde te delg.

Die VF Plus het reeds hierdie jaar druk geplaas op die vorige LUR, mnr. Paul Mashatile, en het eindelik op 1 Maart vanjaar daarop aangedring dat die premier hom moet verwyder as LUR. Hy is die volgende dag met mnr. Uhuru Moila vervang.

Die VF Plus het dadelik met die nuwe LUR ‘n gesprek aangevra om hierdie probleme in Gauteng te bespreek en die LUR het dadelik tot so ‘n gesprek ingestem.

Die afvaardiging van die VF Plus in Gauteng het bestaan uit mnre. Philip van Staden (LPW), mnr. Jaco Mulder, leier van die VF Plus in Gauteng, asook raadslede Amanda de Lange (Mogale City) en Gerda Senekal (Emfuleni). (Foto meegaande)

Konstruktiewe gesprekvoering is baie nodig om probleme in Gauteng te probeer oplos. Die VF Plus spreek die hoop uit dat mnr. Moila daadwerklik die politieke wil sal toon om in te gryp om die Emfuleni- en Mogale City-munisipaliteite reg te ruk sodat voldoende dienslewering aan inwoners gelewer kan word.

Mnr. Moila het ‘n moeilike taak op sy skouers om plaaslike regering in Gauteng vlot te laat verloop en die VF Plus is hoopvol dat hy veel beter sal vaar as sy voorganger.

Kontakbesonderhede: 060 556 4347

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.