Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in Ekurhuleni steun onafhanklike kragverskaffers en groter finansiële deursigtigheid

Die VF Plus steun die beginsel om onafhanklike kragprodusente toe te laat om by te dra tot die Ekurhuleni-metro se energievoorsiening en die skep van ’n struktuur waardeur bates vir die voorgestelde onafhanklike kragprodusente aan ’n betroubare derde party toevertrou word.

Ekurhuleni se inwoners en sakeondernemings het jare lank swaar gely onder Eskom se onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, gereelde beurtkrag en stygende koste. ’n Gediversifiseerde energie-mengsel kan lei tot beter stabiliteit, verminderde afhanklikheid van Eskom en moontlik meer mededingende tariewe op die lang termyn.

Die VF Plus het nietemin ernstige kommer uitgespreek oor die finansiële en bestuursimplikasies wat in die voorstel vervat is.

Die voorgestelde borg- en derdeparty-struktuur bring ’n ingrypende verandering in die wyse waarop munisipale elektrisiteitsinkomste bestuur word.

Inkomste sal voortaan eers afgesonder en geprioritiseer word vir onafhanklike kragprodusente, voordat die metro toegang kry tot die oorblywende balans.

Dit beteken dat die metro se finansiële buigsaamheid direk beperk word en dat kerninkomste onder eksterne beheer geplaas word.

Verder word die raad versoek om Eskom-verwante waarborgverpligtinge te aanvaar sonder dat daar voldoende duidelikheid bestaan oor die volle omvang van die metro se potensiële finansiële blootstelling.

Sulke verpligtinge kan die metro vir jare bind en groot risiko’s vir dienslewering en finansiële stabiliteit inhou.

Hierdie verskuiwing in finansiële beheer en prioriteite is van so ’n aard dat dit nie sonder deeglike risiko-evaluering en volle deursigtigheid aanvaar kan word nie.

Bestuursbesluite van hierdie omvang moet op ingeligte oorweging, meriete en verantwoordelike finansiële beginsels berus en nie op politieke dringendheid of korttermyn -oplossings nie.

Goeie bestuur vereis deursigtigheid, behoorlike risiko-evaluering en ingeligte besluitneming voordat langtermyn finansiële verpligtinge aanvaar word.

Hierdie bestuur kan net verseker word deur betroubare vennote in die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November te kies en daarom word kiesers aangemoedig om hul kruisie by die VF Plus te trek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.