Die ernstige tekort aan bek-en-klouseer-entstof plaas boere onder geweldige druk te midde van die kalfseisoen wat vinnig nader kom. Terwyl die krisis vererger, verloor boere reeds kalwers en word kuddes toenemend verswak.
’n Boer in die Oos-Vrystaat het die VF Plus meegedeel dat meer as 50% van sy kalwers binne die eerste twee weke ná geboorte gevrek het. Hierdie verliese is ’n groot finansiële slag vir boerderye en plaas enorme finansiële en emosionele druk op boeregesinne.
Die antwoord volgens kundiges, is dat massahoeveelhede entstowwe onmiddellik nodig is om die totale Suid-Afrikaanse kudde binne agt weke in te ent.
‘n Gedesentraliseerde benadering met die politieke wil om dit uit te voer, is nou broodnodig. Die regering se administratiewe prosesse en gesentraliseerde beheer vertraag die uitrol van inentings. Boere behoort direkte toegang tot entstof te hê sodat hulle vinnig en prakties op grondvlak kan optree om hul kuddes self in te ent en sodoende te beskerm.
Berigte dat reeds ingeënte beeste weer besmet raak, terwyl die departement van landbou se uitrol stadig en sonder dringendheid vorder, laat ernstige vrae ontstaan oor hoe die krisis bestuur word.
Die staat behoort alles moontlik te doen om die proses te versnel deur groter samewerking met private veeartse en landbou-organisasies toe te laat sodat entstof vinniger op grondvlak beskikbaar gestel kan word.
Indien die probleem nie dringend beter bestuur word nie, gaan Suid-Afrika weens die groot hoeveelheid vrektes ‘n baie duur prys betaal wat voedselinflasie aanbetref.
Elke dag se vertraging kos boere geld en bedreig die voortbestaan van die Vrystaat se landbougemeenskap.


