Die onthulling van die parlementêre staandekomitee oor openbare rekeninge (Skoor) oor omvattende kubermisdaad in die Ekurhuleni-metro, waar kuberkrakers na raming oor ʼn lang tydperk meer as R2 miljard uit die metro se faktureringstelsel gesteel het, is opnuut ʼn bewys van die ANC-geleide koalisie se wanbestuur.
Kuberkrakers het herhaaldelik die metro se faktureringstelsel geskend deur eenvoudig onbeskermde Wi-Fi by die lisensiedepartement in Bedfordview te gebruik. Vanuit voertuie buite die gebou is spioenasie-sagteware geïnstalleer, wagwoorde gesteel en skuldrekords stelselmatig gemanipuleer. Dit het gelei tot die onwettige kwytskelding van skuld en die uitreiking van tariefklaring-sertifikate.
Die metro self het hierdie situasie as ’n “digitale noodtoestand” beskryf. ’n Onafhanklike forensiese verslag het reeds in Julie 2025 gewaarsku dat interne samespanning en swak IT-beheer die aanvalle moontlik gemaak het. Ten spyte van hierdie waarskuwings het die ANC-geleide administrasie nagelaat om betyds op te tree.
Terwyl inwoners daagliks sukkel met swak dienslewering, gate in die paaie, water- en kragonderbrekings, hoë tariewe en swak skuldinvordering, het miljarde rande van belastingbetalers se geld eenvoudig verdwyn.
Hierdie kubermisdaad is nie ’n ongeluk nie, maar die direkte gevolg van jare lange kaderontplooiing, die aanstelling van onbevoegde persone, gebrekkige toesig en ’n totale gebrek aan verantwoordbaarheid onder ANC-beheer.
Die VF Plus verwag dat die Ekurhuleni-metroraad onmiddellik en daadwerklik optree. Dit sluit ’n volledige, onafhanklike forensiese ondersoek in na alle IT-transaksies, rekeningmanipulering en betalings oor die betrokke tydperk.
Die publiek en die raad het die reg om te weet presies wat verkeerd geloop het en wie verantwoordelik was.
Daarbenewens moet daar volle openbaarmaking kom van alle betrokke amptenare, kontrakteurs en politieke leiers. Almal wat by die bedrog, korrupsie of nalatigheid betrokke was, moet strafregtelik vervolg word.
Senior bestuurders en die politieke leierskap moet ook persoonlik aanspreeklik gehou word vir die feit dat hulle toegelaat het dat die metro se kritieke stelsels so maklik geskend kon word.
Terselfdertyd moet daar onmiddellik daadwerklik aandag gegee word aan die versterking van kuberveiligheid. Dit behels onder meer onafhanklike monitering en gereelde oudits van alle finansiële- en administratiewe stelsels om te verseker dat so ’n massiewe misdaad nie weer kan plaasvind nie.
Inwoners van Ekurhuleni verdien beter. Hulle verdien ’n munisipaliteit waar hul geld beskerm word en waar bekwame, verantwoordelike mense aangestel word.
Inwoners het op 4 November die geleentheid om vir die VF Plus te stem om hierdie patroon van mislukking te beëindig.


