Suid-Afrika kan nie gratis tersiêre onderwys bekostig nie, en dit is nou bevestig deur die verslag van die Heher-kommissie. Die VF Plus hoop dat hierdie boodskap inslag sal vind by pres. Jacob Zuma wat glo beplan om gratis hoër onderwysplanne tog deur te voer, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê dit is ook belangrik om in ag te neem dat die verslag opgestel is toe dit geldelik veel beter met Suid-Afrika gegaan het. Hy sê Suid-Afrika se finansiële posisie verswak bykans daagliks en enige kans op gratis onderwys is nou selfs minder haalbaar.
“Die benarde finansiële posisie van die land, wat die direkte gevolg van die ANC se wanbestuur en sy leiers se plundering van die staatskas is, het die venster vir die moontlikheid om studente gratis te laat studeer, nou finaal toegeslaan.
“Daar moet onder die huidige omstandighede eerder daarop gefokus word om die geld wat wel aangewend word om universiteite te laat funksioneer, veel beter te benut.
“Daar moet in die eerste plek strenger keuring plaasvind om skoolverlaters tot universiteite toe te laat en skoolstandaarde moet verhoog word om studente ‘n redelike kans te bied om sukses met hul studies te behaal.
“Die teenoorgestelde gebeur egter op basiese onderwysvlak, en daar is selfs sprake om vakke soos wiskunde uit te faseer. Met die huidige swak onderlegging op skoolvlak is die meerderheid studente bloot nie gereed om sukses te behaal op tersiêre vlak nie.
“Daar kan nie meer geld gemors word op massas studente wat geen kans staan om selfs hul eerste jaar op universiteit te slaag nie. Studente wat nie ‘n redelike kans staan om sukses by ‘n universiteit te behaal nie, sal na tegniese kolleges en soortgelyke studie-inrigtings verwys moet word.
“In die lig van hierdie verslag se bevinding is hardnekkige gerugte dat pres. Zuma wel R40 miljard wil vind vir gratis tersiêre onderrig, uiters onrusbarend. Dit is daarom interessant dat hy hierdie verslag juis nou uitreik wat dit uitspel dat gratis studies bloot nie moontlik is nie,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216