Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus het vrae oor moontlike Internasionale Gesondheidsverdrag

Die VF Plus het vrae oor die moontlike ondertekening van ‘n internasionale verdrag oor pandemievoorkoming en paraatheid deur lidlande van die Wêreld-gesondheidsorganisasie (WGO).

Dit blyk dat Suid-Afrika deel is van die onderhandeling en mede-ondertekenaar van die verdrag sal wees.

Korrespondensie oor die moontlike verdrag het onder die VF Plus se aandag gekom. Uit die inhoud blyk dit dat lidlande van die WGO besig is om sekere maatreëls neer te lê in die beheer en bekamping van toekomstige pandemies.

Die inligting oor die moontlike verdrag kom van die webblad van die WGO self en belanghebbendes het in ‘n skrywe aan parlementslede navraag gedoen oor die Suid-Afrikaanse regering se betrokkenheid.

Alhoewel die VF Plus geen amptelike dokumentasie kon opspoor wat deelname aan so ‘n verdrag bevestig of nader besonderhede daaroor kan verskaf nie, is die moontlike gevolge daarvan kommerwekkend.

Die ergste daarvan is dat die WGO Suid-Afrika in die toekoms kan voorskryf oor hoe om ‘n pandemie in die land te bestuur.

Die VF Plus gaan navrae in hierdie verband rig aan die presidensie en die minister van gesondheid.

Indien enige verdrae oor enige pandemie met ander lande en internasionale organisasies gesluit word, behoort die Suid-Afrikaanse publiek daarvan kennis te dra.

Dit moet vooraf bespreek word met die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid en leiers van alle politieke partye wat verteenwoordiging in die parlement het.

Suid-Afrikaners, wat in hierdie stadium voos is van die pandemie en die regering se regulasies daaroor, is moeg vir die eensydige reëls en regulasies van ‘n magshonger ANC-regering.

Die regering behoort hom nie te verbind tot internasionale verdrae alvorens die mense van die land nie insae daarin gehad het nie.

Die VF Plus is besig om ondersoek rondom die aangeleentheid in te stel.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.