(Begrotingsdebat in parlement: Handel, nywerheid en mededinging)
Die departement van handel, nywerheid en mededinging is veronderstel om die sleutel-aandrywer te wees vir ekonomiese herstel in die nasleep van staatskaping, korrupsie en die verwoestende uitwerking van Covid-19-regulasies op die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Die departement se begroting oor die strategiese vyfjaartydperk vanaf 2020 tot 2025 en vir die 2022/23-boekjaar is gefokus op die implementering van beleid, strategie, programme en aansporings wat daarop gemik is om nywerheidsontwikkeling te bevorder en deelname aan die ekonomie te verbreed.
Dit is egter gedoem tot mislukking gedoem solank die ANC-regering vasklou aan gefaalde ideologieë en beleidstandpunte soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA).
Hierdie departement kan gesien word as die vlagskip vir die regering se rasgedrewe beleid met die Black Industrialist Forum, die breë basis swart ekonomiese bemagtigingsforum en die Mededingingskommissie aan die voorpunt.
In Augustus 2021 het die Mededingingskommissie 'n voorgestelde oorname van Burger King in Suid-Afrika deur 'n internasionale private-ekwiteitsfonds verbied weens die gebrek aan histories-benadeelde persone onder die nuwe eienaars.
Die Mededingingskommissie het dus nog 'n onbemande handhawingsagentskap vir SEB geword.
Die manier waarop SEB in Suid-Afrika gemanifesteer het, het gelei tot ‘n nog groter gaping tussen ryk en arm sedert 1994 en is trouens van die hoogste ter wêreld.
Ten spyte van die regerende party se mandaat om ongelykheid reg te stel, het die aantal swart sake-eienaars afgeneem met die gevolg dat SEB slegs 'n paar bevoordeel het.
SEB het misluk. Die ANC se beleid het nuwe ongelykhede geskep en deur voort te beur met dieselfde gefaalde beleid sal lei tot ‘n ANC-nalatenskap van armoede en vernietiging.
Verder word die departement gekenmerk deur korrupsie. So het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in Maart 2022 bevind dat die raad van die Nasionale Lotery-kommissie sowat R300 miljoen verduister het.
Die geld was bedoel vir dwelm-rehabilitasiesentrums, ouetehuise asook die bemagtiging van vroue en die jeug.
Meer as 50 afsonderlike sake van korrupsie en wanbesteding word ondersoek en slegs 12 van die 50 sake is tot dusver afgehandel.
Die departement is ook nie in staat om spesiale ekonomiese sones in sy huidige vorm volhoubaar te ondersteun sonder drastiese ingryping nie.
Die doel van die ontwikkeling van spesiale ekonomiese sones is veronderstel om inklusiewe ekonomiese transformasie te bevorder en om die ekonomie te industrialiseer.
Van die faktore wat die volhoubaarheid van die sones in die wiele ry, is beperkte menslike hulpbronne, onwettige sakeforums wat gemeenskappe teister, provinsies wat nie toegerus is om hierdie spesiale ekonomiese sones te ondersteun nie, onvoldoende befondsing en provinsies se wanbesteding van inkomste wat onder meer uit die verhuring van persele gegenereer word.
Suid-Afrika benodig 'n totale nuwe uitkyk en selfs 'n nuwe bedeling wat ekonomiese ontwikkeling en groei betref.
Onder die huidige regering sal dit nie gebeur nie. Suid-Afrika verdien beter as die ANC.