Die VF Plus veroordeel die optrede van EFF-lede vandag gedurende ‘n spesiale raadsvergadering waartydens die Tshwane-metro se 2022/23-begroting ingedien sou word.
EFF-lede het gedurende die vergadering raadseiendom beskadig, elektroniese apparaat uitgeruk en tafels en stoele rondgegooi kort voordat Peter Sutton, burgemeesterskomiteelid vir finansies, sy toespraak kon lewer.
EFF-lede het voor die aanvang van die begrotingsvergadering aan ‘n onwettige optog deelgeneem en daarna die raadsaal binnegestorm waar verskeie raadslede rondgestamp is.
In die proses het die burgemeester, Randall Williams, se skootrekenaar verlore geraak en sy notas ter voorbereiding van die vergadering is opgeskeur.
Die VF Plus veroordeel die EFF se optrede wat ‘n sprekende voorbeeld is van ‘n party wat nie in die metro se ekonomiese vooruitgang tot voordeel van alle inwoners belangstel nie.
Die VF Plus gaan ‘n klag by die metro se reëls en etiek-komitee indien teen die wanordelike optrede van die EFF. Die vergadering sal more (Vrydag) aanlyn voorgesit word.