Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus het sy bedenkinge oor Zikalala se “Operation Bring Back”

Die VF Plus koester bedenkinge oor die minister van openbare werke en infrastruktuur, Sihle Zikalala, se program om geboue terug te neem wat gesteel of onwettig oorgedra en beset word.

Volgens die minister sal daar spoedig met ʼn proses begin word om sowat 1 260 geboue van die 29 000 wat in die departement se bateregister verskyn en wat beset word, terug te neem.

Wat die minister nie sê nie, is dat daar van die altesame 66 115 geboue in staatsbesit, 1 399 in onbruik staan.

Die VF Plus het al herhaaldelik in die parlement gewaarsku dat die regering moet begin om na sy bates om te sien. Dit behoort na regte aan die belastingbetalers van die land.

Wanneer die geboue leeg staan, neem besetters en plunderaars oor en neem die waarde van die geboue aansienlik af of dit word eindelik gesloop weens die grootskeepse verwoesting daarvan.

Die toestand van staatsgeboue is die simptoom van ʼn gebrekkige en ondoeltreffende instandhoudingsprogram asook die gebrek aan effektiewe batebestuur.

Dit lei nie net tot ʼn verlies aan inkomste vir die departement nie, maar beteken dat die belastingbetaler eindelik die prys daarvoor moet betaal.

Die departement se bateregister blyk tans nie op datum te wees nie en die VF Plus betwyfel dit of die regering eens weet waar al sy geboue of staatsgrond is.

Eiendomme en grond wat nog geregistreer is onder die vorige regering se naam asook op die naam van die ou TBVC state, Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei, blyk ook ʼn probleem te wees vir die departement om op te spoor.

Dit skep ʼn enorme probleem en dra by tot voorvalle soos wat die afgelope tyd in Johannesburg afgespeel het waar tientalle mense omgekom het in ʼn brand wat in ʼn besette gebou uitgebreek het.

Alhoewel hierdie gebou luidens berigte nie aan die regering behoort nie, moet die tragedie ʼn wekroep vir die regering wees om so spoedig moontlik behoorlike instandhouding van sy eie bates te begin doen en sy bateregister op datum te kry.

Die VF Plus is dit eens dat gekaapte geboue van die regering teruggeneem moet word, maar die probleem ontstaan dat daar weinig inligting oor “Operation Bring Back” bestaan. Dit is onseker presies hoe hierdie program uitgevoer gaan word en of dit nie weer net lippetaal is nie.

Die departement en die regering moes in die eerste plek nooit toegelaat het dat sulke wanorde in Suid-Afrika posgevat het nie en moet pa staan vir die situasie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.