Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus help om waterkrisis in Rooiwal op spits te dryf

Die jarelange waterkrisis in die Rooiwal-omgewing gaan nou op die spits gedryf word deur die direkte toetrede van die VF Plus.

Die party het onderneem om mnr. Theuns Vogel, ’n plaaslike boer, met regshulp by te staan ten einde die Tshwane-metro te dwing om ‘n hofuitspraak van 2019 na te kom.

Die kern van hierdie regsaksie is die metro se voortgesette versuim om te voldoen aan die betrokke 2019-hofbevel wat die metro verplig om die Rooiwal-watersuiweringsaanleg dringend op te gradeer, die storting van onbehandelde riool in die Apiesrivier stop te sit en gereeld aan die hof verslag te doen oor infrastruktuurvordering.

Hoewel die metro ná die uitspraak ’n kontrakteur vir onderhoudswerk aangestel het, is die kontrak van R291 miljoen reeds in 2020 gekanselleer, wat die projek tot stilstand gebring het.

Gedurende ’n onlangse oorsigbesoek aan die gebied is bevind dat die situasie sedert 2019 glad nie verbeter het nie.

Slegs 25% van die Rooiwal-aanleg is tans in produksie, terwyl onverwerkte riool oor stilstaande damme spoel en die ondergrondse watertafel besoedel.

Hierdie rou riool vloei direk in die Apies- en Krokodilrivier in, met verwoestende gevolge vir die plaaslike landbousektor. Groenteboere word gedwing om hul bedrywighede stop te sit en veeboere het nie genoeg veilige water vir hul diere nie.

Benewens die ekologiese ramp, kla inwoners dat die gedurige stank hul gesondheid benadeel.

Boere bevind hulself ook in ’n finansiële lokval aangesien hulle nie hul grond kan verkoop nie weens die feit dat besoedelde boorgate dit onmoontlik maak om die nodige watersertifikate aan banke of kopers te verskaf.

Die gemeenskap bly intussen afhanklik van beperkte en onvoldoende drinkwater wat die metro voorsien.

Die VF Plus kan nie langer toekyk terwyl die Rooiwal-gemeenskap en boere onder die Tshwane-metro se wanbestuur ly nie.

Hierdie is ’n noodsaaklike stap om die metro te dwing om sy verpligtinge na te kom, die watersuiweringswerke te herstel en te sorg dat boerdery voortgesit kan word en inwoners van genoeg skoon water voorsien word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.