Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Manyi oor selfbeskikking: Klaarblyklik begryp MK-LP nie die SA-Grondwet of internasionale reg nie

Openbare deelname oor die MK-LP, Mzwanele Manyi, se poging om artikel 235 uit die Suid-Afrikaanse Grondwet te laat verwyder, het hom klaarblyklik genoop om ekstra kommentaar van sy kant af by die proses in te sluit. Dit is egter ‘n flou poging om die inisiatief te herwin.

‘n Herhalende tema in sy verklaring Woensdag is dat artikel 235 nooit as permanent bedoel was nie, maar slegs ‘n oorgangsreëling. Hy is verkeerd.

Deel van die Grondwet is Skedule 6: Oorgangsreëlings, maar artikel 235 is in Hoofstuk 14: Algemene Bepalings. Dat Manyi wens artikel 235 was slegs tydelik, beteken nie dat dit is nie.

Nog ‘n “stawing” van Manyi se eie standpunt, is dat die internasionale reg, sowel as die skikking van 1994, ‘n eenheidstaat verkies. Selfbeskikking het volgens hom slegs betrekking op die bevolking as geheel van ‘n gebied met erkende grense. Die werklikheid is dat die internasionale reg selfbeskikking as ‘n meganisme beskou om spanning binne multikulturele state te ontlont.

Wanneer ‘n sentrale regering sulke pogings weerstaan en kulturele minderhede onderdruk, word sesessie as ‘n laaste uitweg moontlik.

Dit is wat byvoorbeeld in Ethiopië gebeur het, toe Eritrea ná ‘n burgeroorlog van drie dekades deur die internasionale gemeenskap as onafhanklike land erken is. Daarna het Ethiopië stappe geneem om kulturele verskeidenheid uitdruklik te erken.

Manyi beweer dat die Ingonyama Trust geen parallel vir selfbeskikking is nie, omdat dit slegs ‘n manier is om kommunale grond te bestuur. Dit staan in skrille kontras met die sienings van ‘n afvaardiging van koning Misizulu ka Zwelithini met wie die VF Plus gister samesprekings gehad het.

Vandag vergader die afvaardiging met die MK Party en dit sal interessant wees om te sien of Manyi hulle van sy siening gaan probeer oortuig.

Laastens beweer Manyi dat kulturele- en taalidentiteit reeds in die Grondwet gewaarborg is en dat artikel 235 oorbodig is. Sy verwerping van enige kultuurspesifieke instellings het tydens parlementêre verrigtinge oor die Bela-wet duidelik geblyk.

Die VF Plus sal die parlementêre stryd vir die behoud van artikel 235 voluit stry. Die publiek het tot hierdie naweek om deel te neem, voordat die parlementêre proses begin. Daarna sal daar weer geleentheid vir openbare deelname wees, as die poging die eerste stappe oorleef.

Bydraes kan gestuur word aan speaker@parliament.gov.za.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.