Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

MRK-verslag bevestig provinsiale versuim in Noord-Kaap – aanspreeklikheid noodsaaklik

Die VF Plus dring aan op onmiddellike optrede om menseregteskendings weens munisipale wanbestuur in die Noord-Kaap reg te stel.

Dié skendings het aan die lig gekom in ‘n verslag van die menseregtekommissie (MRK) wat vandag uitgereik is.

Die verslag bevestig ’n stelselwye ineenstorting van munisipale bestuur en dienslewering en toon ’n volgehoue patroon van wanbestuur. Dit lei tot die skending van inwoners se grondwetlike reg tot water, sanitasie, ’n gesonde omgewing en menswaardigheid.

Daarom bevind die MRK dat munisipaliteite die drempel vir ingryping ingevolge artikel 139 van die Grondwet reeds bereik het.

‘n Bevinding dat waarskuwingstekens van finansiële en institusionele verval nie deur tydige, gekoördineerde en voldoende robuuste ingrypings opgevolg word nie, wek veral kommer. Dit het direk betrekking op die provinsiale sfeer van regering en beteken dat die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, mnr. Bentley Vass, versuim om sy grondwetlike pligte na te kom.

Van die ernstige tekortkominge wat die verslag uitwys, is die volgende:

• Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit se aanhoudende rioolstortings en verval van infrastruktuur wat ’n provinsiale rampverklaring regverdig
• Renosterberg-plaaslike munisipaliteit, waar die provinsiale regering tans onsuksesvol ingryp en sterker ingryping noodsaaklik is
• Dikgatlong-plaaslike munisipaliteit, met ernstige kapasiteitstekorte en buitensporige besteding op noodmaatreëls;
• Emthanjeni-plaaslike munisipaliteit waar die begroting onbefonds en dienslewering gebrekkig is
• Kai !Garib-plaaslike munisipaliteit wat steeds nie aan finansiële regulasies voldoen nie

Diegene wat vir wydverspreide finansiële wanbestuur en vrugtelose uitgawes verantwoordelik is, dra geen gevolge nie. Die gevolg is onvoldoende beplanning, afwesige onderhoud van infrastruktuur en uiteindelik die ineenstorting van dienste.

Die VF Plus beskou hierdie aanhoudende versuim as ’n verbreking van die departement se grondwetlike pligte ingevolge artikels 154 en 139 van die Grondwet.

Die VF Plus dring dus op die volgende optrede aan:

• Onmiddellike artikel 139(1)(b)-ingrypings in die betrokke munisipaliteite
• Formele verklaring van ’n provinsiale ramptoestand in Sol Plaatje
• Dringende versterking van ingryping in Renosterberg
• Verpligte finansiële herstelprosesse waar verantwoordbaarheid geld
• Versterkte wetstoepassing teen beskadiging en diefstal van infrastruktuur
• Nasionale ingryping waar die provinsie versuim om op te tree.

Hierdie verslag laat geen twyfel nie dat die situasie in die Noord-Kaap onmiddellike en beslissende optrede vereis.

Die VF Plus sal alle beskikbare wetlike en toesigmeganismes aanwend om die departement en sy politieke leiding verantwoordbaar te hou en die regte van inwoners te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.