Die VF Plus is sterk gekant teen die Mangaung-metro se voorgestelde watertariefverhogings vir die 2026/2027-boekjaar.
Hierdie buitensporige verhogings is onaanvaarbaar in ʼn metro met waterverliese van bykans 48.6%.
Volgens die konsepbegroting staar huishoudings in die laagste verbruikersblok (0–6 kl per maand) ’n massiewe verhoging van 46,83% in die gesig, met tariewe wat van R13,28 tot R19,50 per kiloliter opskiet.
Verder word die basiese beskikbaarheidsheffing vir residensiële eiendomme verhoog van R52.75 tot R70.00. Sake- en industriële tariewe styg met tot 22%, wat verdere druk sal plaas op die reeds sukkelende plaaslike ekonomie.
Hoewel die waterverskaffer, Vaalwater, ʼn verhoging van 11% aangevra het, wat ook nie aanvaarbaar is nie, beloop die gemiddelde verhoging vir huishoudings sowat 14%.
Een van die kernprobleme lê by waterverliese. Byna die helfte van die metro se water gaan verlore weens onwettige aansluitings, ongemeterde persele, foutiewe watermeters, ernstige lekkasies en vervalle infrastruktuur.
Inwoners word nou gedwing om vir die ANC se jarelange verval en swak bestuur te betaal.
Die VF Plus doen ’n beroep op inwoners om hierdie onbillike verhogings tydens die openbare deelnameproses teen te staan. Die vergadering vind plaas op 4 Mei 2026 om 16:00 in die Indaba-ouditorium in die Bram Fischer-gebou, en skriftelike besware moet voor of op 4 Mei ingedien word by Hansie.VanZyl@mangaung.co.za, Arrie.Bartnis@mangaung.co.za of Lehula.Reid@mangaung.co.za.
Moenie toelaat dat hierdie buitensporige tariefverhogings onbetwis bly nie.
Die VF Plus sal, en tree reeds daadwerklik op teen die verhogings en inwoners se deelname versterk hierdie druk om die metro tot verantwoording te roep.
Die ANC se herhaalde gebrek aan finansiële dissipline en orde plaas deurlopend ʼn las op inwoners.
Die komende plaaslike regeringsverkiesing bied aan inwoners die geleentheid om by die stembus vir die VF Plus te stem vir daadwerklike verbetering.


