Die VF Plus sal die Rooiwal-kleinboere bystaan met dringende regsaksie teen die Tshwane-metroraad weens die voortdurende ineenstorting van die Rooiwal-rioolwerke en die metro se opsigtelike minagting van bestaande hofbevele.
Hierdie stap volg nadat die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, tydens haar stadsrede beweer het dat daar “geen waterkrisis is nie” – ’n uitlating wat lynreg bots met die werklikheid in Rooiwal.
Terwyl die burgemeester krisisse ontken, vernietig rioolbesoedeling en swambesmetting oeste langs die Apiesrivier. Boere word gedwing om produkte wat teen enorme koste verbou is, as groenvoer te gebruik omdat dit ongeskik is vir menslike verbruik.
Die VF Plus se burgemeesterskandidaat, Willie Spies, sal ‘n plaaslike boer, mnr. Theuns Vogel, op regsgebied bystaan in sy stryd om die metro verantwoordbaar te hou.
Die kern van die regsaksie is die metro se versuim om te voldoen aan hofbevele wat die metro verplig om die Rooiwal-watersuiweringswerke dringend op te gradeer, die storting van onbehandelde riool in die Apiesrivier te staak, gereeld verslag aan die hof te lewer oor die vordering van infrastruktuurprojekte en skoon drinkwater aan die gemeenskap te verskaf terwyl die waterbronne besoedel bly.
Ten spyte van hierdie duidelike uitsprake het die infrastruktuur verder verval. Sedert die metro oorgeskakel het van private kontrakteurs na hul eie, het die voorsiening van drinkwater nog verder agteruitgegaan,
Dit het tot toenemende spanning en konflik gelei, terwyl die boere en inwoners steeds van watertenkers afhanklik is om in hul basiese behoeftes te voorsien.
Wat eens ’n vooruitstrewende landbougemeenskap was, staar nou totale ineenstorting in die gesig. Sonder ’n onmiddellike en volhoubare oplossing vir toegang tot skoon water, kan boere eenvoudig nie oorleef nie.
Hierdie krisis raak nie net ’n klein groepie produsente nie, maar hou ernstige implikasies in vir voedselsekerheid en die plaaslike ekonomie.
Die VF Plus kan nie toelaat dat die metroraad hofbevele as bloot opsioneel beskou terwyl boere se voortbestaan vernietig word nie.
Hierdie regsaksie is ’n noodsaaklike stap om aanspreeklikheid af te dwing en die Rooiwal-gemeenskap se regte te herstel.


