Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Oorsigbesoek in Mogale City vind wanorde en verval

Die VF Plus het Maandag ʼn oorsigbesoek aan dele van Krugersdorp in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit gebring na talle klagtes uit die gemeenskap oor die agteruitgang van die dorp en het totale wanorde en verval gevind.

Baie mense woon op straat, rommel word voor ondernemings en op straathoeke geplaas en infrastruktuur is beskadig.

Die onbeheerde gebruik van dwelms, alkohol en selfs voorskrifmedisyne wat in strate rondlê, is ʼn bron van kommer.

Die hoë werkloosheidsyfer van 39% in Krugersdorp dra by tot die agteruitgang waar mense op feitlik elke straathoek aangetref word wat staan en bedel of goedere verkoop.

Volgens munisipale verordeninge en regulasies word straathandel slegs toegelaat wanneer die persoon in besit is van ʼn toepaslike permit. Die handelaar mag ook nie die verkeer belemmer of ʼn sypaadjie versper nie.

In die geval van Mogale City hardloop handelaars vrylik tussen motors rond en bied hul goedere aan motorbestuurders aan.

Bedelary wat verkeer verhinder, veral by verkeersligte en verkopers wat mense intimideer of ʼn oorlas veroorsaak, is onwettig.

Die VF Plus het reeds die burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, Francis Makgatho, versoek om wetstoepassing streng uit te voer omdat dié optrede mense se lewe in gevaar stel.

Eienaars van ondernemings in Krugersdorp met wie die party in die middedorp gesels het, is ongelukkig oor die vullis wat in strate ophoop, mense wat openlik dwelms gebruik en langs strate slaap.

Krugersdorp en omliggende dorpe in Mogale City het beleggers nodig, maar met hierdie situasie is dit feitlik onmoontlik om mense te lok om in die gebied te belê.

Die VF Plus bly verbind daartoe om inwoners en ondernemers te steun, hul griewe aan te hoor en dit by die onderskeie departemente aan te meld.

Die herstel van die gebied se ekonomie en die skep van ʼn veilige omgewing is die kern van ʼn suksesvolle dorp of streek.

Die party sal voortgesette druk op die Mogale City-munisipaliteit uitoefen om te sorg dat die Krugersdorp netjies gehou word en wetstoepassing gereeld plaasvind.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.