Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emfuleni stuur ampsdraers oorsee te midde van nypende geldtekort

Die VF Plus is ten sterkste gekant teen die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se besluit om vyf afgevaardigdes na die Wêreldstede-beraad te stuur wat van 14 tot 16 Junie in Singapoer aangebied word.

Die besoek is moontlik gemaak deur die ANC wat die proses deur gestoomroller het ten spyte van duidelike en geregverdigde besware.

‘n Aanvanklike kosteberekening wat in Maart gedoen is, toon dat ‘n uitgebreide reis – wat vir 12-21 Junie beplan word, sowat R970 000 gaan kos, maar dit kan selfs nog meer word namate lugrederye heffings toepas weens hoë brandstofpryse.

Dié stap onderstreep die feit dat die munisipaliteit onder die ANC verkies om ‘n internasionale reis te prioritiseer terwyl Emfuleni onder ernstige finansiële druk verkeer en die dringende behoeftes van inwoners ignoreer.

Die VF Plus beskou hierdie as ‘n voorbeeld van onverantwoordelike besteding weens gebrekkige leierskap.

Die argument dat sulke reise langtermynvoordele inhou, hou geen water wanneer daar geen duidelike, befondsde of geloofwaardige plan bestaan om verbeterings plaaslik te doen nie.

Die VF Plus sal die volle openbaarmaking van alle koste eis en verantwoordbaarheid van alle afgevaardigdes afdwing.

Voorts sal die uitkomste noukeurig gemonitor word om enige gebrek aan implementering bloot te lê.

Die VF Plus sal voortgaan om te veg vir die prioritisering van dienslewering en die finansiële herstel van Emfuleni.

Belastingbetalers verdien leierskap wat hul behoeftes eerste stel, en nie een wat duur internasionale reise bo plaaslike realiteite plaas nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.