Die VF Plus verwelkom die voorlopige skorsing van die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, hangende die strafregtelike saak teen hom.
Getuienis voor die Madlanga-kommissie en verhore voor die betrokke parlementêre ad hoc-komitee oor georganiseerde misdaad en polisiebetrokkenheid, het pres. Cyril Ramaphosa geen keuse gelaat as om die stap te neem nie.
Sedert die aftrede van genl. George Fivaz was daar nog nie ‘n enkele nasionale polisiekommissaris wat sy of haar termyn voltooi het nie.
Alles dui nou ook daarop dat Masemola dieselfde paadjie as sy voorgangers gaan stap en nie sy termyn gaan voltooi nie.
Dit bevestig hoe diep die historiese krisis in die polisie lê en waarom die publiek se vertroue in die polisiediens ‘n ongekende laagtepunt bereik het en misdadigheid ‘n hoogtepunt.
Terselfdertyd hang daar groot vraagtekens om die aanstelling van lt.genl. Puleng Dimpane as waarnemende nasionale kommissaris.
Lt.genl. Dimpane is en was die hoof finansiële beampte van die polisie tydens omvattende finansiële ongerymdhede waar groot bedrae geld van die polisie gestroop is en waaroor daar nou getuig is voor onder andere regter Madlanga.
Dit beteken nie dat lt.genl. Dimpane met enige ongerymdhede verbind kan word nie, maar die feit dat dit op haar wagbeurt plaasgevind het, boesem nie vertroue in nie.
Die VF Plus is van mening dat die probleem by die polisie se totale top- en seniorbestuur lê en dat enkele veranderings geen werklike verskil gaan maak nie.
Swak aanstellings van senior polisiebeamptes en veral van nasionale kommissarisse is een van die hoofredes vir die huidige stand van sake in die polisie.
Hier moet dit in gedagte gehou word dat dit die taak van die president is om die nasionale kommissaris aan te wys.
Daar sal sonder verwyl diep gesny moet word in ‘n totale skoonmaakaksie. Polisiebeamptes wat bo verdenking staan en daadwerklik in die belang van die land se veiligheid optree en nie vir eie gewin nie, moet aangestel word.
Net so ‘n stap sal weer die publiek se vertroue in die polisie herstel.


