Die VF Plus het in minder as twee dae ingegryp by kwarantyn-sentrums in Lephalale (Ellisras) en in Upington by die Harry Surty-hospitaal en die Eiland-vakansieoord wat hiervoor geoormerk is.
Die VF Plus het laat gisteraand klagtes rondom die Harry Surty-hospitaal ontvang nadat mense wat vanaf Namibië afkomstig is en wat deur die Nakop-grenspos beweeg het, hier moet tuisgaan vir die volgende veertien dae om seker te maak dat hulle nie die koronavirus onderlede het nie.
Van die klagtes was dat daar nie water in die krane is nie asook ‘n tekort aan warm water. Die waterprobleem is volgens bronne in die hospitaal reeds maande lank ‘n probleem.
Die VF Plus se raadslid in Upington, Hendrik Greyling, het ondersoek rondom die klagtes gaan instel. Die saak is ook onder die aandag van die departement van gesondheid en die betrokke minister gebring.
Met die VF Plus se besoek aan die Eiland-vakansieoord vanoggend was dit duidelik dat die oord nog nie gereed is om as kwarantyn-sentrum te dien nie.
Greyling het dadelik die saak opgeneem met die betrokke munisipale bestuurder en volgens die persoon is hulle nie ingelig oor hoe om die gerief gereed te kry nie. Dit is ook onder die aandag van die departement van gesondheid en die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, gebring.
Die onderneming is aan die VF Plus gegee dat die situasie aandag sal geniet. Die party monitor tans die situasie.
Die VF Plus is tevrede dat die minister en die departement tot dusver goed op die VF Plus se klagte reageer en daadwerklik werk daarvan maak om die probleme op te los.
Kontaknommer: 060 556 4347