fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-regering se IT-blitstender: VF Plus dien klag in by OB weens vreemde omstandighede waarin tender toegestaan is

Die VF Plus het vandag ‘n klag by die openbare beskermer (OB) ingedien om die blitstender vir IT-dienste wat die Gauteng-regering aan ‘n diensverskaffer toegeken het, te ondersoek.

Dit blyk uit inligting rakende die omstandighede van die toekenning van die tender dat dit moontlik onreëlmatig kan wees. Luidens ‘n berig in die City Press van 5 April 2020 het verskeie ander diensverskaffers klagtes hieroor by die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams, ingedien. ‘n Fluitjieblaser het ‘n brief hieroor aan president Ramaphosa geskryf.

Die tender is toegeken onder vreemde omstandighede wat die VF Plus genoop het om die OB te nader ten einde die kwessie te ondersoek.

Eerstens blyk dit dat diensverskaffers tydens die uitnodiging om te tender net twee besigheidsure daarvoor gekry het aangesien die uitnodigings-e-pos om 17:17 op 25 Maart 2020 uitgestuur is en daar vereis is dat die tender ingedien moes word teen 10:00 op 26 Maart 2020.

Die diensverskaffer wat die tender gewen het, In2IT Technologies, het luidens berigte vinnig gereageer met ‘n 100 bladsy tender-dokument. Die tender is blykbaar spoedig daarna toegeken aan dié diensverskaffer. Die hele proses het net 24 uur geduur.

Die huidige diensverskaffer wat nou vervang word, GSOC Security Services, argumenteer dat dit onmoontlik is om in so min tyd so ‘n omvattende tenderdokument op te stel en gereed te hê. Volgens die City Press-berig is daar amptenare in die departement wat meen dat die tender geskep is vir ‘n spesifieke diensverskaffer in gedagte.

Tweedens blyk dit dat daar ‘n botsing van belange bestaan tussen In2IT Technologies en lede van die Gautengse regering. Dit is nie duidelik of dit wel verklaar en hanteer is nie.

Luidens die City Press-berig is die diensverskaffer ‘n borg van die sokkerspan Moroka Swallows, waarby die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, belange het.

Verder word berig dat daar reeds verskeie pogings was om die diensverskaffer by ander regeringsinstansies betrokke te kry, maar sonder sukses. Dit versterk die indruk dat die Gautengse regering hierdie tender spesifiek vir die diensverskaffer geskep en toegeken het.

Teen hierdie agtergrond het die VF Plus besluit om die OB te versoek om die tender vir enige onreëlmatighede te ondersoek.

Dit is belangrik dat daar in hierdie grendeltydperk met ekstra aandag gekyk word wat die regering op al drie vlakke doen aangesien oorsigstrukture soos komitees nie kan vergader en oorsigbesoeke aflê nie.

Die VF Plus is bewus van die verantwoordelikheid wat dit op die party plaas en sal nie skroom om op te tree waar enige ongerymdhede vermoed word nie.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.